02.09.2013 Views

Pieter-Snyman_Afr pdf - tekkieraces.co.za

Pieter-Snyman_Afr pdf - tekkieraces.co.za

Pieter-Snyman_Afr pdf - tekkieraces.co.za

SHOW MORE
SHOW LESS

You also want an ePaper? Increase the reach of your titles

YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.

Pieter Snyman, Springbok-soldaat 1940-45

‘n Kort opsomming deur Leon Bezuidenhout, Maart 2008

Vroegste jare

Peter Johannes Jacobus (Pieter) Snyman word op 6 April 1919 op Zeerust gebore. Hy

oorleef as 18 maande-oue baba die gevreesde “kinderverlamming” (polio). As kind

kom die familie in die depressiejare in Johannesburg aan, nadat sy vader se besigheid

op Zeerust ondergegaan het. As sportiewe en aktiewe kind neem hy deel aan elke

denkbare sport. Hy geniet aksie en kompetisie.

As 20-jarige is hy en ‘n paar vriende in September 1939 by Heidelberg-kloof, toe ‘n

motor teen die stofpad afgejaag kom. Die kar blaas toeter en die passasiers skreeu

“Oorlog! Oorlog!” Suid-Afrika het die Tweede Wêreld Oorlog betree. As jongman, uit ‘n

huis waar politiek nie veel saak gemaak het nie, was die redes vir die oorlog nie

belangrik nie. Die oorlog sou sy lewe egter radikaal omkeer. Hy het avontuur gesien.

In sy latere lewe sou hy erken dat niks “mooi” hieruit gevolg het nie. Vir hom was daar

later niks “glamorous” in oolog nie”. Dit sou ‘n ontnugtering wees.

Soldaat en die Veldtog in Abessinië

Op 17 April 1940 stap Pieter Snyman deur die hek van Sonderwater Opleidingsbasis,

net oos van Pretoria. Hier is die infanterie opgelei. Hy wou eers by die Lugmag ‘n

vlieënier word, maar sy ma het seker gemaak haar kind bly op vaste grond, en die

papiere opgeskeur. Hy word na sy opleiding na die South African Irish Regiment

uitgeplaas. In regte humor, soos net die army kan doen: die Boerseun van Zeerust

tussen die Iere!

Pieter, die bestuurder, altyd reg vir aksie.

2

In November 1940 vertrek hy as deel van die 5de SA Infanterie Brigade met die Lang

Steven Castle na Kenia op pad na die front. Abessinië. Hulle klim af by Mombassa en

vertrek na Gil-Gil, hul nuwe basis. Vanaf Gil-Gil vertrek hulle deur die droë dele van

Noord-Kenia, deur die Masebeth-woud tot in die berge van Abessinie.

Voor hulle lê die Italiaanse magte. Hulle eerste kontak met die Italianers is kort en

skerp. Nog nie een skoot is deur die jong Snyman geskiet nie of die pantserkarre bring

die gewondes en dooies terug. Oor die pantser-staal loop bloed. Die bloed van Suid-

Afrika se bestes.

“Ek het vinnig agtergekom dat koeëls in twee rigtings trek. In die hitte van die geveg,

terwyl die bloed loop en die gewondes sommer op pantserkarre uitgebring word, het

ek besef: hier is gevaar, hierdie is oorlog - en ék WIL LEWE”. Alle illusies was uit die

weg geruim.

Enkele ure later is die Italianers oorrompel.

El Gumu. ‘n Groep uitgesoekte soldate beweeg in die donkernag vorentoe om die

Geallieerde linie aan te skuif. Maar die Suid-Afrikaners is nie die enigstes wat voor

hulle linie doenig is nie. Skielik loop die twee middenagtelike pionierspanne in mekaar

vas. Pieter het ‘n anti-tenk geweer en skiet die leidende Italiaanse troepedraer uit. Die

Afrika-nag ontplof in lig en ‘n kakofonie van klank. In die wanorde wat volg, val die

Italianers terug. Oral lê dooies en gewondes.

Maar oorlog maak jou hard en gevoeloos. “’n Lyk is nie meer ‘n dooie mens nie. Dit is

bloot ‘n stuk iets met kosbaarhede wat mens kan beroof”.

By Mega veg die Suid-Afrikaners vir drie dae in die allermoeilikste omstandighede.

Reën en modder maak die terrein onbegaanbaar vir voertuie, en die ondersteuningslinie

bly agter. Uiteindelik breek die Suid-Afrikaners deur wanneer hulle met

masjiengeweer en bajonet die die Italiaanse vesting inneem. Laat die aand gee die

Italianers oor. Nou lê Addis Abeba oop.

Op pad daarheen vee die Suid-Afrikaners die landskap skoon en duisende Italiaanse

gevangenes word bymekaargemaak - dikwels in kort, vurige skermutselings. Die

geveg om Addis Abeba is niks meer as net ‘n gebaar van verdediging nie, en vinnig is

die halfhartige verdediging op ‘n einde. Voordat die soldate hulle kan vergryp aan die

plesiere van die stad, word hulle daaruit onttrek. Die doelwit is bereik. Die Italianers se

mag was gebreek. Vir nog ses maande sou die stryd op lae intensiteit voortduur, maar

die 5de SA Brigade was op ‘n ander plek nodig.

Egipte en Libië

Waarheen nou? Dalk die huis? Maar nee, die 5de Brigade word op skepe gelaai en

die hulle draai noord. Deur die Seuz-kanaal tot by Seuz. ‘n Troepetrein neem hulle na

Alexandrië. Reg in die spervuur. Dieselfde nag nog reën die bomme op hulle soos die

Duitse en Italiaanse bomwerpers hul vrag oor hulle leegmaak. ‘n Vuurdoop in Egipte.

3

Die Spil-lugbombardemente sou voortduur, vir maande. By Mersa Matruh sou hulle vir

vier maande soos rotte ondergrond lewe om verligting van die lugaanvalle te kry.

Pieter Snyman was nou ‘n jaar in die oorlog. Die ergste sou nog kom.

Vir maande lê die Suid-Afrikaners by Mersa Matruh. Die SA 1ste Divisie-bevelvoerder,

genl George Brink, dring daarop aan dat sy troepe eers deeglik opgelei word voordat

hulle tot die aanval oorgaan. Die Britse generaal in beheer, Sir Claude Auchinlek, deel

sy sentiment en die Suid-Afrikaners word goed voorberei.

Pieter (regs) met mede-soldaat (onbekend)

Genl Alan Cunningham, die bevelvoerder van die suksesvolle Abessiniese veldtog,

word as bevelvoerder na die nuutgevormde 8ste Leer oorgeplaas. In London raak

Churchill ongeduldig. Die tyd vir aksie het gekom. Tussen Libië en die Midde

Oosterse-olievelde was Egipte. Teenoor hulle was veldmaarskalk Erwin “Desert Fox”

Rommel (bevelvoerder van die Duitse Afrika-korps). Hy moes Egipte opruim om te

verseker dat die Spil-moondhede hulle erg benodigde oliebron kon bekom. Die

Geallieerdes se Operasie Crusader moes sorg dat dit nooit gebeur nie.

Voor die Geallieerdes in Libië lê die Afrika-korps van Rommel. Geharde soldate met ‘n

geniale soldaat as leier. Die Afrika-korps moes vernietig word, maar teen die

onverskrokke Duitsers was dit makliker gesê as gedaan. Die Geallieerdes moes oor

die Doringdraad-grens wat Egipte en Libië geskei het, oppad na die strategiese hawe

by Tobruk. Lank reeds was Tobruk onder druk van Rommel.

4

Cunningham se plan was om deur die doringdraad- en landmyngrens te breek en die

Duitsers en hulle helpers, die Italianers, tot ‘n beslissend geveg te forseer. Die plek

van die finale geveg sou wees El Quasc.

Te midde van strategiese besluite, is Pieter Snyman nog steeds die voetsoldaat. Die

een vir wie dit om oorlewing gaan.

Op 21 November 1941 begin die deurbraak. Pieter Snyman is weer een van die

gekose pioniers. Voor hom en ander lê ‘n ondeurdringbare versperring van 8 meter

doringdraad. Dan volg nog ‘n 8m opgerolde doringdraad en dan nog 8m

verstrengelende doringdraadversperring. Oral onder die draad is landmyne. ‘n

Staalgrens, honderde kilometers lank

Die pioniers word met groot, dik handskoene en staalskêre uitgereik. Hulle moet gate

deur die staal sny sodat die res van die mag kan deurbeweeg… amper soos die

Israeliete deur die Rooi See.

Hy vertel: “Ons lê op ons rûe met groot leerhandskoene aan, onderwyl ons al swetend

deur die harde draad knip. Die geluid van die groot staalskêre in die nag klink byna

soos onheilspellende musiek - ‘n meedoënlose voorspel tot ‘n angswekkende rapsodie

van barstende bomme en knetterende masjiengewere. Hier binne ons brand ‘n

ontsettende vrees - ‘n angs vir die landmyne wat orals begrawe lê. As ‘n soldaat sy

gewig op een van die myne plaas, ontplof dit met verwoestende geweld en nog ‘n jong

lewe word aan stukke geblaas.”

Teen ligdag breek hulle uiteindelik deur, en die tenks en troepe stroom deur die

gapings. Maar die dag het nog maar net begin. In hordes kom die Duitse vliegtuie met

hulle bomme. Die lugafweer van die 5de Brigade gooi alles in wat hulle het.

Wat ‘n paar maande vroeër begin het as ‘n brigade van 3 000 man, het nou gegroei tot

‘n Brigade Veggroep. Die SA Irish Regiment (Pieter se manne), die Derde Bataljon

Transvaal Scottish en die Regiment Botha is nou aangevul - met alle ondersteuning, ‘n

veldambulans, ‘n verkenningsbataljon, ‘n lugafweer-komponent, ‘n artilleriekomponent

en nog baie ander.

Die 5de SA Brigade Veggroep het nou uit 5 700 man bestaan - 5 700 man, as deel

van die Britse 7de Pantserdivisie. As susterbrigades in die divisie is die 7de

Pantserbrigade (die latere bekende “Desert Rats”) en die 22 Guards Brigade.

Die lugafweer is aanvanklik oneffektief maar soos die dag aangaan, leer almal. Die

troepe leer om op die kante van die sagtebakvoertuie te sit. As hulle die vliegtuie hoor

aankom, duik hulle af en kry afstand tussen hulle en die konvooie. Dan grou hulle so

vinnig ‘n mens kan, ‘n sloot vir dekking. Teen die middag word die kannoniers meer

akkuraat en ook die Duitse vlieniers raak versigtiger.

5

Pieter se wagtende familie (links bo)

Met die aankoms by El Quasc is daar niks - en niemand. Net ‘n kol op ‘n kaart.

Eindelose plat terrein. Rommel het nie by Cunningham se plan gehou nie! Nou moes

die plan dringend verander word. Die 8ste Leer grawe in. Hulle verdedigende posisies

is presies soos beplan, maar daar’s geen vyand.

Ten einde uitvoering te probeer gee aan sy aanvanklike plan, verdeel Cunningham sy

magte. Waar is Rommel en die Duitsers? Gaan haal hulle en bring hulle hierheen vir

die geveg. Hierdie strategie van ‘n verdeelde mag sou Cunningham duur te staan

kom. Hy sou uiteindelik sy bevel verloor voordat Operasie Crusader verby was.

Sidi Rezegh

Die 7de Pantser-divisie word na Sidi Rezegh gestuur om die vliegveld daar te beset.

Dit sou so reg in die aartsopportunis Rommel se kraal wees. Skaars het die 5de

Bridagegroep by Sidi Rezegh aangekom, of Rommel kom met ‘n verwoestende

teenaanval.

Die naaste hulp (genl Dan Pienaar se 1ste Brigade is meer as 20km weg). Alleen en

afgesny van hulp was die Brigadegroep ‘n ideale teiken vir die Pantserarmee.

6

Crusader-tenk ry verby ‘n brandende Duitse pantser

Op Sondag, 23 November begin die Duitse teenaanval. Eers die Duitse bomwerpers

(Stukas) wat op die Suid-Afrikaners afduik met hulle akkurate bomme, dan die Duitse

tenks en pantser.

“Hoe later, hoe meer onmenslik word die aanvalle. Die geskril van bomskerwe, die

fluitende mortierbomme, die verblindende gloed van ligspoorkoeëls, wat hulle pad

deur alle weerstand baan, die hortende stukkato-geblaf van die masjiengewere, die

aardskuddende lawaai van die 25-ponders, en die verskriklikste geluid van almal, die

huilend Stuka-vliegtuie wat met vlammende koeëls en bomme op ons afduik - dit alles

smelt saam tot ‘n onaardse, senutergende kakofonie.”

“Ons ore is verdoof, elke brein word soos ‘n masjien wat genadeloos voortgedryf word.

Maar steeds kom die Duiste staaltenks aangerol. Ons skiet met mening. Baie Duitse

soldate val stukkend oor hulle gewere en rol van hulle tenks.”

Maar die Duitsers is te effektief. Die Suid-Afrikaanse pantser word geneutraliseer. Nou

was dit voetsoldaat teen tenk. Nie veel van ‘n kans nie. Bloed vloei, ammunisie raak

op, oral lê dooies en gewondes. Die hulpkrete bly onbeantwoord. Oral gaan wit vlae

op.

Vir Pieter Snyman en ander was dit tyd om tot ‘n besluit te kom. Daar was nie veel

offisiere oor om met so ‘n besluit te help nie. Òf veg ‘n pad oop, òf gee oor en

spandeer die res van die oorlog in ‘n gevangenekamp. Vir Pieter Snyman, ‘n

aggressiewe jong soldaat was die keuse ‘n uitgemaakte saak.

7

Die Duitsers maai onder ons ondersteuningsvoertuie by Sidi Rezegh

Die donker was genadiglik besig om toe te sak, toe drie figure tussen die

stukkendgeskiete voertuie rondsluip op soek na ‘n bruikbare voertuig - Pieter Snyman,

sy vriend George Pitchford en ‘n onbekende Bruin drywer. Wonderbaarlik kry hulle ‘n

trok met ‘n enjin wat vat. Die drywer skuif in, en die ander twee staan op die voetplate

langs die deure. Skaars het hulle begin beweeg of uit die niet verskyn ‘n Britse

Crusader-tenk voor hulle - en die tenk wys “Kom!”

Met die beweging op die slagveld is alle aandag nou op die tenk en sy een voertuiggevolg.

Alle hel bars los in die donker skemer soos daar op die bewegende teiken

geskiet word. Voor die trok ontplof die vroegaand in duisend sterretjies soos die

masjiengewere van die Crusader ‘n pad probeer oopskiet.

Dan skielik uit die niet bevind die ontvlugtendes hulle voor ‘n donker muur. ‘n Muur van

oprukkende Duitse pantser. In ‘n poging om weg te kom, swaai die trok links uit. Hulle

verloor kontak met die Crusader. Oomblikke later tref die trok ‘n gat en Pieter Snyman

verloor greep op die deur en ploeg deur die woestyn. Die trok jaag voort totdat

Pitchford besef wat gebeur. Deur die koeëls hardloop hy terug en gaan haal vir Pieter.

Sekondes later is hulle weer in volle vaart op pad uit. Dan swaai die trok regs - en

skielik is die Crusader weer voor hulle.

Op ‘n manier het die Crusader die aandag van hulle afgelei en dit moontlik gemaak dat

hulle makliker kon wegkom. Beide voertuie maak dit tot by die omliggende heuwels en

relatiewe veiligheid.

8

Wanneer hulle uiteindelik op die rante bo Sidi Rezegh uitkom, kyk hulle terug. Pieter

vertel: “Daar onder lyk dit soos ‘n vlammehel. In die halwe skemer toring die

oorblyfsels van groot tenks en kanonne teen die agtergrond van die vlammegloed die

lug in - amper soos reuse grafstene wat teen die hemel afgeëts is.”

Sidi Rezegh, die plek waar Sjeik Sidi Rezegh begrawe is, het amper ook hulle graf

geword. ‘n Plek waar hulle gekom het, en niemand van geweet het nie, sou vir die res

van hulle lewe by hulle bewussyn ingegraveer wees.

Die slagveld van Sidi Rezegh, 530 Geallieerde tenks buite aksie, 100 Duitse tenks buite aksie

Van die 5 700 man van die 5de SA Brigadegroep wat by Sidi Rezegh betrokke was,

sou slegs 2 306, van die geveg terugkeer.

Die vlug vat hulle sowat 20km tot waar genl Dan Pienaar se 1ste Brigade afstaan.

Maar die gevegte volg hulle. Skaars het hulle by Pienaar aangekom of die Duitsers

loods ‘n aanval. Nogmaals is die uitgeputte manne van die 5de Brigade in ‘n lewe-endoodstryd.

Op 25 November 1941, twee dae ná Sidi Rezegh, veg hulle teen ‘n aanval van 50

tenks. Die aanval word afgeweer, maar moegheid en voortdurende stres van

konstante gevegte noop die bevelvoerders om die oorblyfsels van die 5de Brigade na

Mersa Matruh terug te stuur.

9

Pieter by Mersa Matruh

By Mersa Matruh word die oorblyfsels van die SA Irish in ‘n artillerie-eenheid omskep -

‘n formasie wat tot in die 60er-jare sou duur. Nou moes hulle leer om kanonne te

beman. Hulle word na Seuz gestuur om die skepe se vrag kanonne en tenks af te laai.

Die Duitse lugaanvalle verplig hulle om soos rotte in tonnels en onder die grond in

bunkers te leef.

Een mooi aand in Seuz kom Pieter en twee van sy makkers uit die kantien gestap.

Hulle was nie ver weg nie of ‘n Duitse lugaanval vernietig die kantien waar hulle nou

net was. Die een man, ‘n sersant-majoor, se liggaam in twee geskeur. Die ander

makker lê met ‘n gapende wond waaruit die bloed pomp. Pieter hardloop terug na die

kantien. Dit lyk soos ‘n teesif. Bloed en weefsel sit teen die mure. Dood hang in die

lug. Maar daar is nie veel wat hy kan doen nie…

Maar iewers in Johannesburg het sy ma, Sarah Snyman, daardie nag wakker geword

en dringend vir haar seun gebid.

Behalwe vir die velle op sy sy wat Pieter in sy duikslag in ‘n sloot verloor het, was hy

ongedeerd.

10

“Dryfhout uit die see”

‘n Paar weke later kry Pieter die sein. Jou verlof het aangebreek. Jy kan huis toe

gaan. By Seuz klim hy op die skip, “Nova Scotia”. By Massawa laai hulle die

Amerikaanse soldate op die skip af en ruil hulle vir Italiaanse krygsgevangenes. In die

hitte van die woestynkus by Massawa besluit Pieter om sy vriende te beïndruk. Van

die tweede dek duik hy sierlik na die see daar onder. Met een van sy duikslae is daar

skielik ‘n haai langs hom. Hy gryp desperaat na die tou langs die skip en trek hom op.

Hy het nie weer geduik nie. Maar sy wedervaringe met haaie het maar slegs begin.

RMS Nova Scotia

Vir 18 dae ploeg die Nova Scotia se boeg deur die water, suid. In die aand sing die

Italianers. Dit is mismoedig en treurig. Dit laat Pieter huis toe verlang. Hy dink aan sy

vriende. Hy is die enigste van die drie wat gegaan het, wat lewend sou huis toe kom.

28 November 1942. Die agtiende dag op see is onstuimig. Die Nova Scotia vleg ‘n pad

eers na links, dan weer na regs - sig-sag, om die moontlike aanvalle van Duitse

duikbote te fnuik. Maar die rowwe, onstuimige see is met witskuim bedek. Dit maak die

mense wat moet uitkyk vir periskope, se taak oneindig moeiliker.

Om 9vm hierdie oggend lê die Duitse U-177 slegs 300m verder weg. Die

bevelvoerder, Kapitänleutnant Robert Gysae, het reeds vroeg die oggend die

stippeltjie op die horison gemerk en beveel dat die U-177 dieper moet duik - en wag.

Nou slegs 250km van Durban en 80km van die Portugese Lourenço Marques

(Mosambiek), was die Nova Scotia ‘n lam ter slagting.

Dan tref ‘n torpedo die skip, en nog een en dan ‘n derde. Pieter het so pas onder die

ruim uit gekom. Die ontploffings gooi hom reg oor die dek en hy gryp die relings aan

die anderkant vas. Vir ‘n oomblik rol die skip en dan hel die skip oor na bakboord.

Oombliklike chaos volg. Binne is daar sekondêre ontploffings en mense gil. Bo-op die

dek is van die kolehokke aan die brand en daarmee saam die hele middelste helfte

van die skip.

11

Honderde Italianers staan teen die relings, te bang om te spring en hulle blokkeer die

pad van die wat wil wegswem. Verbrande mense hardloop oor die dek en skreeu van

siedende pyn. Die motore is stil en tonne water vloei die skip binne. Die skrif is aan die

muur. Die reddingsbote aan die bakboordkant is flenters geskiet. Die ander val in die

water en sink. Daar was net een manier oor. Kry ‘n reddingsbaadjie en swem vir jou

lewe.

In uiters gevaarlike omstandighede klim Pieter een dek boontoe en kry ‘n baadjie.

Geklee in net ‘n khaki kortbroek en die reddingsbaadjie spring hy uit die hoogte in die

gevaarlike see ver onder. Hy swem so ver moontlik onder water. Toe hy uiteindelik

boontoe kom, is dit in pikswart olie. Hy swem verder na waar hy ‘n soort vlot sien dryf.

Houtplank en oliedromme.

Hy kyk terug na die skip. Die beur gevaarlik links vorentoe. Net ‘n deel van die

agterste dek steek nog uit. Maar dit is nie redding nie, dit is gewisse dood. Sommige

plekke swem drenkelinge binne die skip rond op soek na ontvlugting. Teen die toue

staan honderde Italiaanse krygsgevangenes, wagtend op die dood. “En toe, asof dit

op ‘n teken gewag het, gee die skip ‘n vreeslike suisgeluid en verdwyn met sy

klouende mensemassa onder die golwe. Daar is ‘n geweldige sluk in die oseaan, en

toe die water toemaak, stuur dit groot golwe na buite toe uit. Toe is daar stilte.”

Die laaste foto’s van die RMS Nova Scotia, soos afgeneem deur die periskoop van die U177

12

“Voor my sien ek nou die wreedste toneel van menseangs en ellende. Om ons is die

magtige, wydgestrekte oseaan - water so ver ‘n mens kan sien; gulsige, skuimende

golwe wat oor die weerlose mensewesens spoel. Oral dryf planke en deure en vlotte

rond. Beangste manne swem koorsagtig rond - opsoek na iets om aan vas te hou.

Soms verdwyn een onder die golwe, om nooit weer op te kom nie.”

Pieter kry ‘n lang tou op die vlot en gooi hom uit na die drenkelinge. Sommige is reeds

te swak. Hy swem en gaan haal hulle. 17 man op ‘n vlot. Twee Suid-Afrikaners en 15

Italianers. Hy kry ‘n roeispaan beet en te midde van die chaos verklaar homself

dadelik as kaptein!

‘n Paar minute gaan verby toe daar skielik ‘n geweldige roering onder die vlot opkom.

Skuins teen die agterkant, gly die vlot teen die duikboot af. In bevreesde afwagting sit

hulle op die vlot. Enige oomblik kan ‘n masjiengeweer op hulle losbrand. Maar die

Duitse kaptein wil net die gesinkte skip identifiseer. Dan besef hy, hy het so pas

honderde van sy bondgenote na hulle graf gestuur. Hy neem twee van die

dobberende Italianers aan boord en verdwyn weer onder die golwe.

Robert Gysae, kaptein van die U177

Weer is hulle alleen. Die drenkelinge word algaande minder. Die vlot is oorlaai en die

passasiers sit halflyf in die water. Om nog mense op te laai sal almal se lot verseël.

Party drenkelinge hang aan die kante. Uitputting haal baie van die enkelinge in.

Sommige sink stil-stil, ander gooi hul arms in die lug en verdwyn… Dapper manne wat

alleen op die water dobber, gil skielik en word deur iets groots na onder geruk. Dan

borrel die bloed boontoe. Haaie! Ons twee Suid-Afrikaners was bang hiervoor...

“In die geskiedenis van die Indiese oseaan was daar nog nooit weer ‘n haai-aanval

soos daardie dag nie. Dit was asof ‘n skool mensvreterhaaie plotseling van nêrens op

ons toegesak het.”

Die see raak onstuimiger en groot golwe breek oor die 17 manne. Die nag breek aan,

maar van slaap is daar nie sprake nie. Die koue wind en golwe sny deur hul liggame.

13

Van tyd tot tyd ruil hulle om - die buitenstes na die middel en weer terug. Maar aan

slaap kan niemand dink nie. Elke nou en dan kom ‘n 5m-haai teen die vlot verby.

Op die see brand die son genadeloos. Tog, toe die eerste grysheid van die dag

verskyn, voel dit asof die lewe na hulle terugkeer. Maar wat hulle sien, is niks

bemoedigend nie. Die planke het gedurende die nag verspreid geraak. Baie het hulle

mense verloor. En nog steeds haaie, oral. Op die tweede dag besluit hulle om die

reddingsbaadjies te skeur en ‘n soort seil te maak. Ten minste sou die wind hulle nou

voortdryf.

Die tweede nag breek aan en hulle soek na ‘n flikkerende liggie. Net ‘n kleintjie. Dan

sien hulle hom. Omtrent 15-20km weg. Maar so stil as hy gekom het, verdwyn hy

weer. En daarmee saam die hoop. Om ‘n tasbare vyand te beveg, is moeilik, maar

hierdie was ‘n senuagtige gedobbel met die onsigbare. En jou emosies is sommer baie

vlak. Geen water, geen kos. Desperaatheid was aan die orde van die dag.

Die ontbering en ontwatering van twee dae en twee nagte het nou tot gevolg dat die

hallusinasies by sommige begin intree. Party praat onsamehangend, ander vloek

verskriklik. ‘n Paar val in ‘n koma. Hulle tonge is geswel. Hulle lippe gebars. Die olie

brand hul bloedbelope oë.

Op die derde middag het die meeste hulleself aan die komende dood oorgegee. Teen

3nm vra Pieter ‘n rooikop-Italianer wat nog by sy positiewe was, om sy bene vas te

hou. Hy wil vir ‘n laaste keer net oor die golwe kyk, miskien was daar tog hoop.

Na vele probeerslae, kry die twee verswakte mans dit reg om Pieter regop te kry. Hy

kyk, en kyk weer. Kan dit waar wees! ‘n Kruis! En die kruis kom nader. Deur sy

gedagtes flits die lied wat hy as kind geleer het…

Op ‘n heuwel daar ver

Staan ‘n ou ruwe kruis,

Die teken van skande en pyn.

Ek bemin die ou kruis

Waar Gods dierbare Seun

Vir ‘n wêreld van sonde moes ly.

Dit word duideliker. Die kruis is die radiomaste van ‘n skip! Vinnig kom die skip nader.

Die “Alfonso de Albuquerque” se bemanning gooi toue. Maar die haaie is te veel. Toe

word ‘n reddingsboot laat sak. Hulle word gered en op die dek neergesit, warm koffie

gegee en in komberse toegedraai. Die wêreld is ‘n draaiende skyf. Die slaap wat so

nodig is, is weg. ‘n Paar sterf na al die ontbering.

Dan gee Kaptein Jose Augusto Guereiro de Brito die bevel om te vaar. Op pad huis

toe. Van die 1 266 passasiers op die Nova Scotia, sou net 192 die hawe lewend

bereik. 120 van die lyke sou op Durban se strande uitspoel (en vroeg voordag

verwyder word om paniek te voorkom).

14

Jose Augusto Guereiro de Brito en sy skip “Alfonso de Albuquerque”

By Lourenço Marques word die Suid-Afrikaners hartlik ontvang, maar gou word besef

dat internering hulle voorland is. Tydens ‘n partytjie wat vir hulle by die Suid-

Afrikaanse Konsul gereël is, word hulle stilweg ingelig dat dit nou elke man vir homself

is.

Pieter en nog ‘n man kry elkeen ‘n fiets in die hande. Hulle voete is so geswel dat hulle

nie skoene kan aankry nie. Hulle word by die spoorwegstasie verjaag en slaap

uiteindelik vir ‘n kort rukkie in ‘n hut sowat 15km buite die dorp. Met die donker nog in

die lug begin hulle stap. ‘n Volle 60 km tot by die grens.

By ‘n paar brue mompel hulle enkele Portugese woorde en die bewakers laat hulle

deur. Dan ‘n paar kilometer voor die grens stop hulle ‘n taxi. Net om te besef dit is ‘n

voertuig wat deur die Suid-Afrikaanse regering gehuur is om die beseerdes in die

hospitaal te ontruim!

Deur Swaziland, deur Nelspruit en uiteindelik na Pretoria. In Pretoria word formaliteite

afgehandel. Hy is oppad huis toe. In Johannesburg sit die Snyman-gesin in spanning

en wag. Hulle weet reeds dat Pieter vermis word. Hulle verwag ‘n boodskap met die

ergste, toe hy skielik by die deur instap! Wat ‘n weersiens…

15

‘n Merkwaardige lewe na als

Vir die res van die oorlog sou Pieter in Pretoria en Potchefstroom dien. Maar die

oorlog het sy ongenaakbare merk op die gemoed van hierdie jong man gelaat. In

moderne tyd sou dit seker kon deurgaan as Post Traumatiese Stres Afwyking. Maar in

die 1940’s was daar nie so iets nie.

Snags skrik hy rukkend op die bed wakker, hoor hy hoe die koeëls fluit en die bomme

bars. Hy is aggressief. Hy stoei en boks provinsiaal. “Iets jaag my. Die duiwel het my

verniel en op die ashoop laat eindig.”

Huweliksdag, 5 Maart 1943 Met sy jong gesin

Uiteindelik besef Pieter dat hy sy lewe op koers moet kry. Sy jong huwelik met Marie

(néé Holtzhauzen) is vir alle prakiese doeleindes op die rotse. Daar het intussen ook ‘n

kosbare klein dogtertjie op die toneel verskyn.

Op ‘n wonderbaarlike wyse kom hy tot inkeer en gee sy lewe oor aan Jesus. Hy

oorkom sy sielkundige letsels uit die oorlog en betree ‘n nuwe lewe. Pieter word ‘n

Pastoor in die AGS en later medestigter van hul susterskerk die Pinkster Protestante

Kerk. As sterk en standvastige man sou hy leiding gee nie net in sy gemeentes nie,

maar ook in die gemeenskap op Klerksdorp waarheen hy driemaal terugberoep is!

Pieter Snyman se merkwaardige storie, getiteld “Dryfhout uit die see”, sou baie tot

inkeer lei.

16

Ten tye van sy diens in die woestyn, kom sy patrollie een middag af op twee

volwasse Arabiere wat op die rug van ‘n klein donkietjie ry. Hulle voete sleep so

deur die sand en die arme donkie strompel voort onder sy swaar vrag. Daar en

dan stop hy die twee. Met die outoriteit wat die Unie Verdedigings Mag aan

hom gegee het, beveel hy die twee om af te klim en die donkie huis toe te dra!

Hierdie sin vir geregtigheid en integriteit sou hy deur sy hele lewe uitleef. Sy dinamiese

benadering het hom laat sê: “I’d rather cool a fanatic than raise a corpse”. Hy sou een

van die bekendste evangeliste in Suid-Afrika word, mentor van jong pastore,

gemeentebouer en eindelik moderator van die kerk. Hy het op 83 ‘n CD vrygestel en

sou tot op 85-jarige leeftyd preek.

Hy sterf na alles, as 86-jarige op 30 April 2005 aan natuurlike oorsake. Hy is in

Krugersdorp begrawe en met sy begrafnis het ‘n doedelsakker, getrou aan die tradisie

van sy ou regiment, vir oulaas van hom afskeid geneem.

‘n Merkwaardige man wat met gebed en genade oorkom het. Ons eer ‘n uitstaande

man en ‘n merkwaardige lewe. ‘n Trotse en besondere SPRINGBOK wat later sy deel

ook in die siviele lewe sou bring. Iemand wat voorwaar ‘n verskil gemaak het.

17

Peter Johannes Jacobus Snyman - 6 April 1919- 30 April 2005

Bronne:

Hough, J.C, Dryfhout uit die see- Die persoonlike getuienis van PJJ Snyman, 1970

Scholtz, Leopold, Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne, Kaapstad, 1984

Mondelinge vertelling en foto’s: Marinda Conradie- kleindogter, Jeffreysbaai, 2008

Video: The Desert Generals, Part 1, The History Channel

18

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!