06.05.2013 Views

Preek 2 Geloof Mark 5v21-43 Vertroue

Preek 2 Geloof Mark 5v21-43 Vertroue

Preek 2 Geloof Mark 5v21-43 Vertroue

SHOW MORE
SHOW LESS

You also want an ePaper? Increase the reach of your titles

YUMPU automatically turns print PDFs into web optimized ePapers that Google loves.

Skriflesing: Markus 5:21-43

Teksverse: Markus 5:34 en 36

Inleiding

REEKS OOR GELOOF: PREEK 2

Ons fokus vanaand op vertroue as een been van ware geloof, saam met kennis. In ons

teksgedeelte vind ons ’n duidelike illustrasie van die feit dat daar geen geloof sonder vertroue is

nie. Twee desperate mense kom na Jesus toe: Jaïrus wie dogtertjie op sterwe lê en die vrou wat

al jare aan bloedvloeiing ly. Beide het sekerlik kennis van Jesus gehad – al was dit net gerugte

oor hierdie man wat mense gesond maak. Maar selfs met beperkte kennis is hulle bereid om

Hom te vertrou. En daarom Jesus se woorde: “...jou geloof het jou gered” en “Bly maar net glo!”

Geloof is om te besef hoe afhanklik jy van God is en jou vertroue geheel en al op Hom te vestig.

Jaïrus se vertroue

Ons teksgedeelte bestaan uit twee episodes waarvan die eerste deur die tweede onderbreek

word. Jesus het teruggekeer na die westelike oewer van die see van Galilea en omdat Hy daar

goed bekend was, word Hy dadelik deur ’n groot menigte mense omring. Een persoon wat na

Jesus toe kom is Jaïrus, een van die raadslede of leiers van die sinagoge. Hy het nie ’n amp

beklee soos dit vandag ken nie, maar was verantwoordelik vir die administrasie en orde in die

sinagoge. Hy was dus ’n gesiene man onder die Jode. En tog kom val hy op sy knieë voor Jesus

neer. Hy is desperaat. Alle mense hulp het misluk en Jaïrus beskou moontlik vir Jesus as ’n

laaste uitweg. Hy het gehoor dat Jesus Hom oor ellendige mense ontferm; dat Hy genesing kan

bewerk. En hy soek desperaat na genesing vir sy dogtertjie wat op sterwe lê. As Jesus maar net

sy hande op haar kan lê, sal Hy haar uit die mag van die dood kan red en sal sy bly lewe.

Sonder om te dink gaan Jesus dan ook saam met die hartverskeurde Jaïrus met ’n groot skare

mense agteraan – waarskynlik mense wat nuuskierig was of sensasie gesoek het, of dalk net

gewag het vir Jesus om te misluk.

JY VERTROU AS JY WERKLIK AFHANKLIK IS

Die tweede episode met die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, vind nou eers plaas. Die

oponthoud wat dit veroorsaak het, moes Jaïrus se geduld, en sy geloof, getoets het want hy het

geweet daar is nie baie tyd nie. Toe Jesus vir die vrou as “dogter” aanspreek, moes dit deur

Jaïrus se hart gesny het – sy eie dogter het dan op sterwe gelê! En dan die verskriklike woorde:

“U dogter het gesterwe.” En mense wat sy versoek aan Jesus as tydmors afmaak – alle hoop is

daarmee heen. Jesus was te laat. En tog gee Jesus nie hoop op nie: “Moet jou nie ontstel nie.

Bly maar net glo!” Die geloof, die vertroue, wat Jaïrus in die eerste plek na Jesus laat gaan het,

moes hom nou dwing om verder saam met Jesus huis toe te stap, al weet hy watter hartseer

hom daar sal tref. Sy vertroue dat Jesus sy kind kan lewend maak, moet hom hoop gee want op

grond van sy vertroue sal sy kind uit die dood gered word. Toe Jesus by die huis kom, neem Hy

die drie wat Hy vertrou het saam met Hom: Petrus, Jakobus en Johannes. Mense het reeds

begin om volgens gebruik verskriklik te huil en te kere te gaan – moontlik was daar al gehuurde

roubeklaers. Maar Jesus berispe hulle: “...sy slaap net.” Hulle lag Hom in hulle ongeloof uit en

Hy jaag hulle weg. En met Jaïrus en sy vrou en die drie dissipels gaan Jesus na die dogtertjie se

kamer. Hy sê vir haar in Aramees: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” Hy praat met haar asof sy

lewe want Hy is die Vors van die lewe, nie die dood nie. En sy staan uit die dood op en loop,

genees van watter siekte haar ook al in sy greep gehad het. En as bewys dat sy lewe, sê Jesus

dat die mense vir haar iets te ete moet gee.

Die vrou met bloedvloeiing se vertroue

Die wonderlike genesing van die twaalfjarige dogter van Jaïrus word onderbreek deur die vrou

wat aan bloedvloeiing gely het. Sy het voortdurende menstruasie en gepaardgaande bloeding

gehad. Waar ander vrouens vir sewe dae elke maand as onrein beskou is, en iemand wat aan

haar raak ook vir daardie dag as onrein beskou is (Lev 15:19ev), was hierdie vrou altyd onrein

en het sy dus ’n baie eensame en afgesonderde lewe gely – niemand kon aan haar raak sonder

om self onrein te word nie. Om met haar toestand tot Jesus te nader, moes uiterste moed

geverg het, en was gewoon ’n uiting van haar desperaatheid. Sy sou na geen rabbi gegaan het

nie! Sy het al haar geld al aan dokters spandeer en het baie onder die behandelings gely – die

mediese wetenskap soos ons dit ken was nog nie eers in sy beginstadium nie en behandelings

was dikwels eerder toorkuns en uitbuiting as werklike mediese hulp. In haar desperaatheid kom

sy dus na Jesus toe en die skare mense gee vir haar geleentheid om onopgemerk die soom van

sy klere aan te raak.

2

Onmiddellik gebeur twee dinge: sy besef dat sy genees is – haar bloeding het opgehou. Haar

vertroue in Jesus se wondermag word ryklik beloon – die bron van haar probleem word in ’n

oomblik weggeneem. En Jesus besef dat daar krag van Hom uitgegaan het. Dadelik vra Hy wie

Hom aangeraak het – nie om die vrou in die verleentheid te stel nie, maar om die eer aan God

te laat toekom en die Vader te loof en te dank. Die dissipels dink sy vraag is onbenullig want

tussen so skare mense sou sommiges aan Hom geraak het. Dit is egter nie toevallig nie maar ’n

geloofsdaad, ’n daad gedryf deur geloofsvertroue, wat die vrou berekend en bewustelik aan

Jesus laat raak. Skielik is die vrou bang – wat as Jesus vir haar kwaad is omdat sy Hom deur

haar aanraking onrein gemaak het? En daarom val sy voor Hom neer en vertel haar geskiedenis

vir Hom. En Jesus antwoord: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed

van jou kwaal genees!” Sy het iets gehad wat die dissipels tydens die stormnag op die see

(4:40) nie gehad het nie – ’n rotsvaste vertroue op die alvermoë van Jesus as die Seun van

God.

Weet hoe afhanklik jy van Jesus is!

Die fokus van beide Jaïrus en die vrou se omgang met ons Here Jesus is hulle vertroue, hulle

geloof. Natuurlik was daar ook sprake van kennis want sonder kennis van die wonderdade wat

Jesus in Galilea gedoen het, sou hulle hulle nooit voor Hom neergegooi en hulself aan sy

ontferming oorgelewer het nie. Dit is immers ook hoekom daar so groot skare mense saam met

Hom beweeg het. 1:34 sê: “Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak

en baie bose geeste uitgedrywe.” Tog was daar in Jesus se tyd baie wat voorgegee het om

wonderwerkers te wees. Jesus self sou later sê: “Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die

Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.” En tog het hierdie twee desperate mense van Jesus

te hore gekom, gehoor wat Hy gepreek en gedoen het, van sy ontferming en liefde vir alle

mense gehoor, en op grond van daardie kennis het hulle van Hom genesing verwag. Hulle het

ervaar waarvan Paulus later sou skryf: “...ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om

Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil 3:8).

Maar Jesus, broers en susters, fokus in sy woorde aan hierdie twee mense op hulle vertroue. In

hulle desperaatheid het hulle lankal opgehou om dokters en boererate en tradisionele medisyne

en wonderwerkers wat teen betaling wonders doen, te vertrou. Jaïrus het geweet dit sal nie sy

dogtertjie red nie. Die vrou het geweet dit sal nie haar bloedvloeiing genees nie. Trouens,

hierdie dinge het haar finansieel geruïneer. En daarom gaan hulle na die voete van Jesus as

3

hulle enigste uitweg. In hulle desperaatheid het hulle besef dat hulle geheel en al van God

afhanklik was. Matteus 5:3 sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want

aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Jaïrus en hierdie vrou het daardie dag die

koninkryk van die hemel ontvang want hulle het geweet hulle is arm van gees (OAV). Hulle

geloof, hulle vertroue, het nie letterlik die dogtertjie opgewek en die vrou se kwaal genees nie –

Jesus het dit deur sy wonderkrag gedoen. Maar hulle besef van hoe afhanklik hulle van God in

Christus en deur sy Gees is, hulle rotsvaste vertroue dat uitkoms net by Jesus te vind is, het

hulle vir sy wondermag oopgestel. Ons hoor die weerklanke van Rut se woorde aan Boas: “Ek is

Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser...” (Rut 3:9). Ons hoor die weerklanke van elke

gelowige se woorde aan Jesus Christus: “Ek is ’n sondaar, ek is geheel en al van U afhanklik,

en U is my Verlosser!”

Getuig jou geloof en vertroue, broer en suster, van jou algehele afhanklikheid van God? Is jy so

desperaat vir uitkoms – geestelik en andersins – dat jy alle ander dinge waarop jy dalk mag

vertrou weggooi en jou voor die voete van Jesus neergooi in die vertroue dat Hy Hom oor jou sal

ontferm? Net soos in Jaïrus en die vrou se geval kom dit nie uit jouself nie: die Gees van God

werk dit in jou, maar terwyl jy aan ander dinge vasklou, sal jy nooit arm van gees voor God wees

nie, sal jy nooit besef, of wil aanvaar, hoe afhanklik jy van God is nie. Ware geloof is om,

wanneer jy God in sy goedheid leer ken, vas te vertrou dat Hy op grond van die soenverdienste

van Christus alles wat goed is aan jou gee. Hoe beter dit met ons as mense gaan, hoe moeiliker

is dit om werklik in afhanklikheid van God te glo en te lewe. Maar as ons werklik in die geloof wil

groei, moet ons groei in ons vertroue. Ons moet meer en meer besef hoe desperaat ons situasie

is. Ons moet meer en meer besef hoe waardeloos die dinge is waaraan ons waarde heg, en hoe

waardevol Jesus in ons lewens is. Ons moet meer en meer besef hoe afhanklik ons van God in

Christus is, en dié dinge waarop ons eerder vertrou, al meer en meer aflê. Ons moet meer en

meer op Jesus vertrou om sy wondermag in ons lewens ten toon te stel.

Opsomming

Broer en suster, meet vanaand jou vertroue aan dié van Jaïrus en die vrou wat aan

bloedvloeiing gely het. Hulle het in hulle absolute desperaatheid besef hoe afhanklik hulle van

God is; dat hulle enigste redding by Jesus te vind was. En hulle het voor sy voete neergeval,

oorgelewer aan sy ontferming. Dit is ook die maatstaf van ons vertroue: is ons so desperaat, so

afhanklik van God in Christus, so aangewese op sy wondermag, sy redding, sy uitkoms? Of

4

vertrou ons op ander dinge? As ons so vertrou, sal Christus sy wonderkrag in ons lewens laat

werk! Mag God ons deur sy Gees meer en meer laat groei in vertroue sodat Jesus ook ons

geloof en vertroue sal prys!

AMEN.

–––oOo–––

5

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!