06.05.2013 Views

Matteus 25:31-46 13/06/2010

Matteus 25:31-46 13/06/2010

Matteus 25:31-46 13/06/2010

SHOW MORE
SHOW LESS

Create successful ePaper yourself

Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.

Matteus 25:31-46 13/06/2010

Tema: Wanneer Christus weer kom, kom Hy om te oordeel. Alhoewel ons die ewige lewe as

geskenk gaan ontvang, is dit wat ons tydens ons aardse lewe doen, geweldig belangrik.

Doel: Om almal op te roep om opnuut as Christene te leef.

Liede vooraf: Gesang 510:1-4 (Almal 1, Broers 2, Susters 3 en almal 4).

Psalm 146:5+6

Toetrede lied: Gesang 163

Votum:

Lofsang: Gesang 201:1-3

Wet en Skuldbelydenis: Psalm 130:2 (Lina Spies)

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis: Gesang 220:1

Skriflesing: Matteus 25:31-46

Gebed: Gesang 253:1+2

Prediking: (Verduidelik eers vir die kinders: sensuur, melaatsheid, balansstaat)

Ek wil vanoggend vir julle ʼn storie vertel wat in 1996 in Die Burger in ʼn rubriek wat deur

Ferdinand Deist behartig is, verskyn het. Die storie handel oor Petrov, die houtkapper

Petrov was ʼn brandarm houtkapper. Hy het die Here sy lewe lank liefgehad en was ʼn baie

getroue kerkganger, totdat hy eendag sommer net begin wegbly het. Net voor kerktyd het

die mense hom die bos sien instap en saans lank na aandkerk het hy eers weer teruggekom.

Omtrent dieselfde tyd het die dorpsmense ook agtergekom dat hy hulle begin vermy. Hy

het wel nog aan die einde van elke dag sy vraggie hout by die handelaar kom neersit en ʼn

klein bedraggie geld daarvoor ontvang. Maar hy het nie meer soos vroeër met ʼn ieder en ʼn

elk ʼn geselsie aangeknoop nie. Hy het niks verduidelik nie, net sy stille gang gegaan, en

Sondae die hele dag lank verdwyn.

Die mense het al hoe meer oor hom begin wonder. Met watter onderdiuims-hede is hy

besig? Dalk doenig met duiwel se dinge, het hulle bespiegel. Want hoekom sonder hy hom so

af en vir wat raak hy net mooi wanneer die kerk moet begin, weg?

Toe een van die ouderlinge een Sondagoggend vroeg vir Petrov met ʼn swart kat onder sy

arm die bos sien inloop, was die gort gaar.

Dis Satansdinge, Dominee, het hulle die predikant gaan vertel. Hy raak hier weg met ʼn

swart kat en as hy terugkom, het hy niks by hom nie. Hy gaan offer natuurlik die stomme

dier. Netnou tref ʼn onheil ons dorp oor die bose dinge. Verlede week het een van die

kinders wat hom agterna gekyk het toe hy die bos inloop, hoeka uit die boom geval en sleg

seergekry.

Ja-nee, het Dominee gesug, en vir ou Petrov ʼn brief geskryf. Hy moes hom bekeer van sy

bose weë, het die brief gelui, en terugkeer na die kerk. Tot tyd en wyl hy tot besinning

kom, sou hy onder sensuur wees. En as hy hardkoppig aanhou met sy dinge, moet hy net

onthou dat hy nog eendag die kerk sal nodig kry as hy te sterwe kom…

Petrov het maar voortgegaan met sy vreemde gedrag. Die gemeente was geskok oor sy

gebrek aan berou en in sy afwesigheid het die kerkraad sy lidmaatskap opgesê.

Toe die dag kom waarteen die dominee hom gewaarsku het, het hulle geweier om hom uit

die kerk te begrawe. Die buurdorp het darem ingewillig dat hy in hulle begraafplaas ʼn

rusplek kon kry.

‘n Rukkie na Petrov se dood het ʼn prokureur met ʼn brief, geadresseer aan die dominee,

daar opgedaag. Dit was by Petrov se testament aangeheg, en daarin het hy verduidelik:

Ek is jammer dat ek die kerk so skielik moes verlaat. Dit het so gekom: Ek het eendag in

die bos waar ek hout kap op ʼn groepie melaatses afgekom wat daar weggekruip het. Hulle

het niemand gehad om hulle te versorg nie. En hulle is verbied om tussen mense te kom –

uit vrees dat hulle die dorpenaars sal aansteek.

Ek het vir hulle ʼn skuiling gebou, hulle probeer versorg en vir hulle kos geneem. Maar ek

kon net op Sondae gaan, want deur die week moes ek elke uur wat ek kon, werk. U weet self

hoe min ek geld ek vir die hout kry. Ek kon ook nie meer naby die dorpsmense kom nie uit

vrees dat ek hulle sou aansteek.

En, o! ja, ek het gehoor dat julle wonder oor die kat wat ek daardie keer saamgeneem het.

U sien, die siek mense het so ʼn behoefte aan iets wat hulle kan streel en vashou, ʼn lewende

wese wat nie vir hulle sou gril nie. Toe neem ek vir hulle die kat.

Ek vra om vergifnis vir my gedrag. En ek vra julle om tog asseblief na my dood voort te

gaan om die melaatses te versorg en my katte kos te gee… (In Piet Naude- Stories vir die

lewe)

Kris Akabusi het per geleentheid gesê: Die wêreld het nie ’n definisie van die godsdiens

nodig nie, maar eerder ’n demonstrasie daarvan (2x).

Dis jammer om te sê, maar daar is vandag baie min mense wat bereid is om vir iemand

anders iets te doen sonder bybedoelings. Ekself was al meerdere kere in my lewe

teleurgestel as iemand iets vir my gedoen het en ek agterna moes uitvind, dit was met ʼn

doel. Baie keer doen mense ook net goed aan mekaar waar hulle gesien kan word. Van

spontane goeddoen aan mekaar sien ons deesdae nie veel nie.

Tog is die goeddoen aan mekaar en vir mekaar vir die Jesus baie belangrik. Dis vir Jesus

belangrik omdat in die goeddoen vir mekaar, kry geloof eers betekenis. Geloof is nie net ʼn

saak van die mond i.t.v. praat/vertel/bely nie. Geloof moet ook sigbaar word deur ons hande

en ons voete en ons mond en ons oë en ons ore. Dis presies wat Jesus vir ons kom wys het.

Hy ontferm hom oor die nood van ander. Hy hoor die roep van ʼn blinde. Hy voel die pluk aan

Sy klere van ʼn sieke. Hy sien die trane in die oë van mense wat hartseer is. Hy sien as

mense honger is, as hulle dors is, as hulle koud kry, as hulle bang is en dan tree Hy in, in

daardie nood. Hy luister. Hy help. Hy gee uitkoms.

Jesus het vir ons tydens Sy aardse lewe gewys, dat Christenskap geleef moet word. Hy

vertel die gelykenis wat ons gelees het om daarmee aan te toon hoe belangrik dit vir Hom

is. Die gelykenis handel oor die eindoordeel, m.a.w. wanneer Jesus weer kom. En dit word

voorgestel as ʼn skeiding tussen 2 groepe mense. Aan die een kant laat Hy almal staan wat

hulle geloof geleef het, almal wat aan mekaar goed gedoen het. Uit dit wat gesê word, sien

ons dat dit nie oor vreeslike groot goed gaan nie. Dit gaan oor klein dingetjies wat ons vir

ander doen soos kos gee, water gee, klere gee, siekes en eensames besoek... Dis vir Jesus

so belangrik dat Hy sê, dit wat hulle vir ander gedoen het is net so goed asof hulle dit vir

Hom gedoen het. Toe hulle kos gegee het vir mense wat honger was, was dit vir Hom so

wonderlik dat dit vir Hom gevoel het hulle doen dit vir Hom. Toe hulle water gegee het aan

dié wat dors was, het dit gevoel of hulle dit vir Hom gee. Toe hulle vir mense klere gegee

het wat nie klere gehad het nie, het dit vir Jesus gevoel of hulle dit vir Hom gedoen het. oe

hulle mense besoek het wat eensaam was, in die tronk was, het dit vir Jesus gevoel, hulle

doen dit vir Hom. Vir dié mense sê Jesus, kom staan hier aan My regterkant want julle gaan

vir altyd saam met My in die hemel kom woon.

Vir dié wat dit nie gedoen het nie, wat nagelaat het om aan mekaar goed te doen, sê Hy,

kom staan aan My linkerkant want julle het nie kos gegee vir die wat honger is nie. Julle het

nie water gegee vir die dors is nie. Julle het nie klere gegee vir dié wat nie klere gehad het

nie. Julle het nie die siekes en die mense in die tronk besoek nie.

Die eindoordeel word hier voorgestel as ʼn baie duidelike skeiding, ʼn finale skeiding soos ʼn

mens skape en bokke van mekaar skei. Hierdie 2 groepe hoort nie bymekaar nie en sal nooit

weer bymekaar wees nie...

Dit mag nou vir jou klink asof ek en jy deur dit wat ons doen vir onsself ʼn plekkie in die

hemel kan verwerf. Ek moet net hier uitgaan en aan soveel as moontlik mense gaan goed

doen want die Here sien dit raak. Hy teken dit aan en aan die einde van my lewe gaan Hy ʼn

balansstaat opstel van alles wat ek gedoen het en nie gedoen het nie. En dan gaan Hy dit

teen mekaar opgeweeg. As ek aan meer mense goed gedoen het as wat ek nagelaat het om

goed te doen, is my plekkie in die hemel verseker.

As dit so was, kon die Moslem en die Hindu en die Boeddhis en die Ateïs op dieselfde

manier vir hulleself ʼn plekkie in die hemel verwerf het. Maar dis nie so nie. Die Bybel sê

onomwonde dat die enigste manier hoe ʼn mens in die hemel kan kom is deur geloof in Jesus

Christus. Ef. 2:8 sê: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom

nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. In Joh. 14:6 sê Jesus: Ek is die weg en die

waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Ons kan alleen deur ons geloof gered word. Die goeddoen aan mekaar is ʼn outomatiese

gevolg van ons geloof. Jakobus sê dit op ʼn ander manier. Hy sê, geloof sonder dade is dood.

Die goeddoen aan mekaar is ʼn bewys dat jy glo, ʼn bewys dat jy o.g.v. die liefde en

barmhartigheid wat jy van die Here ontvang, nie anders kan as om aan ander mense goed te

doen nie.

Die geleenthede is daar. Ons hoef nie ver te soek om iemand te kry wat honger is, wat dors

is, wat nie klere het nie, wat eensaam is, wat ʼn behoefte het aan liefde, aan ondersteuning

en belangstelling nie. En dit begin in ons eie huis. Ons dink so maklik, as ek geld gee, het ek

my plig gedoen. Ek moet net sorg dat daar kos en water en klere en elektrisiteit in die huis

is. Dan kan my vrou/man/kinders mos self sorg as hulle dors is, as hulle honger is, as hulle

koud kry.

Wat ons nie aldag besef nie is dat die honger en dors van mense partykeer ‘n bietjie dieper

lê. M.a.w. dit gaan nie net oor fisiese honger en dors nie. Dit gaan ook oor ʼn honger en dors

na liefde, na vertroeteling, na omgee. Moenie vir jou kind ʼn R50/R100 in die hand stop en

sê, gaan hou jouself besig nie. Moenie dink jou vrou of jou man het genoeg as daar kos en

water en elektrisiteit in die huis is nie. Kyk ʼn bietjie om jou. Kyk ʼn slag nuut na jou gesin,

na elkeen in jou gesin.

Ek het eenkeer gelees hoe ‘n groot besigheidsman wat baie besig was besluit het om sy

seun te vat om te gaan visvang. Hierdie man het ‘n dagboek van al sy afsprake en besige

lewe gehou. Op die betrokke dag het hy in sy dagboek iets geskryf soos – ek en my seun

het gaan visvang en wat mors van tyd was dit nie. Wat hy nie besef het nie was dat sy seun

ook soort van ‘n dagboek van sy lewe gehou het en by die betrokke dag het hy iets geskryf

soos - dit was die wonderlikste dag in my lewe. Ek en my pa het gaan visvang.

Alhoewel jou gesin baie belangrik is, eindig hierdie opdrag nie by jou gesin nie. Dit moet

verder gaan. Daar is so baie nood in die wêreld. Daar is so baie mense wat wag vir ʼn stukkie

kos of ʼn slukkie water of ‘n stukkie klere. Daar is so baie siek mense, eensame mense was

smag na ʼn bietjie liefde en ondersteuning.

Jesus sê, as ons iets vir iemand anders doen, veral vir die geringstes, die swakkes, die

randfigure, die mense wat vergeet is deur hulle families en die samelewing, is dit asof ons

dit vir Hom doen. Hy weet goed hoe dit voel om swak te wees. Op ʼn stadium was Hy so swak

dat Hy nie Sy eie kruis kon dra nie. Hy weet wat dit beteken om bang te wees. In die tuin

van Getsemane was Hy so bang dat Sy sweet soos bloeddruppels geword het. Hy weet wat

dit beteken om dors te wees. Aan die kruis roep Hy uit – Ek het dors, maar i.p.v water druk

hulle ʼn spons vol suur wyn teen Sy mond... Hy weet wat dit beteken om alleen te wees want

toe Hy daar aan die kruis gehang het, het almal wat Hy gedink het by Hom sou staan,

weggehardloop.

Maar Hy het die volle pad geloop omdat dit die manier was waarop God besluit het om

mense se sonde te vergewe. Hy bewys daardie onuitspreeklike liefde vir ons deur Sy lewe

vir ons te gee en nou verwag Hy van ons om aan ander mense liefde te bewys. Omdat Hy

dors was, wil Hy nie hê daar moet mense wees wat dors is nie. Omdat Hy bang en alleen

was, wil Hy nie hê daar moet mense wees wat bang en alleen is nie. Ons moet Sy hande en

Sy voete en Sy oë en Sy ore en Sy mond vir ander mense wees. Petrov het nie Sondae in

die kerk gesit en Maandae vergeet van die mense om hom nie. Hy het toe die geleentheid

hom voordoen iets van die liefde van die Here wat Hy ervaar het met ander gedeel deur vir

mense kos te gee, deur daar te wees vir hulle.

Moenie langer verskonings soek nie. Kyk ʼn slag om jou en doen goed aan ander om só dankie

te sê vir dit wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het. Die wêreld het nie ’n definisie van

die godsdiens nodig nie, maar eerder ’n demonstrasie daarvan. Amen.

Respons na die prediking: Gesang 552:3+4 (Bly sit)

Dankgebed:

Slotsang: Gesang 488:1-5

Seën:

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!