REEKS OOR VRYHEID IN DIE GELOOF: PREEK 2 Skriflesing ...
REEKS OOR VRYHEID IN DIE GELOOF: PREEK 2 Skriflesing ...
REEKS OOR VRYHEID IN DIE GELOOF: PREEK 2 Skriflesing ...
Create successful ePaper yourself
Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.
Skriflesing: Galasiërs 5:1-12

Teksverse: Galasiërs 5:6

Inleiding

REEKS OOR VRYHEID IN DIE GELOOF: PREEK 2

Paulus, broers en susters staar ’n krisis in die gemeentes in Galasië in die gesig. Dwaalleraars

probeer die gelowiges van hulle vryheid in Christus beroof. Hulle leer dat jy besny moet word om

gered te word. Jý moet die wet nakom want Christus se verlossingswerk, God se genade, is nie

genoeg vir jou nie. In ons teksgedeelte praat Paulus kwaai met die gemeente want hulle vryheid

is swaar verdien – deur die bloed van Christus. Uiteindelik gaan dit nie oor die besnydenis, of

enige ander wet nie, maar oor geloof in die Persoon en verlossingswerk van Christus wat tot

liefdevolle dade oorgaan. Dit beteken dat ons nie van die wet op sigself bevry is nie – Jesus sê

dit self dat ons gehoorsaamheid nog groter en meer intens as dié van die Jode moet wees.

Maar Hy bevry ons wel van die verdienste van die wet. En as ons daarin terugval, verbreek ons

ons band met Hom en verbeur ons die genade van God. Ons moet versigtig wees om nie ons

redding in ons gehoorsaamheid te soek nie!

Verslaaf aan die wet

BEVRY VAN DIE VERDIENSTE VAN DIE WET

In sy brief aan die Galasiërs hoor ons, broers en susters, Paulus se passie vir Jesus Christus en

sy evangelie van bevryding. Paulus is op die oorlogspad want die evangelie van genade is op

die spel. Hy het goed geweet dat hy net deur genade alleen gered is; dat sy eie ywer in die

nakoming van die wet van Moses (1:14) vir hom niks beteken het nie (Fil 3:7) en net tot sy

vervolging van die kerk van Christus gelei het (1:13). En daarom sy verontwaardiging, eintlik

woede, oor die Judaïste wat die gemeentes in Galasië op ’n dwaalspoor gelei het. Judaïste was

predikers in die vroeë kerk wat die gelowiges wou oortuig om weer die Joodse gebruike, en

veral die besnydenis toe te pas as aanvulling tot die reddingswerk van Christus aan die kruis. Vir

hulle was Christus se offer so 90% voldoende maar jy moet self die ander 10% verskaf deur die

verdienste van jou wetgehoorsaamheid. Dit was juis dwaalleer omdat dit die 100%

volkomenheid van Christus se offer, en dus eintlik die 100% genade van God, ontken het.

Hierdie dwaalleraars was so oortuigend dat van die gelowiges al ernstig oorweeg het om hulle te
laat besny, lei ons uit vers 2 af. En daarom Paulus se ernstige vermaning en waarskuwing in ons

teksgedeelte. Hulle aanvaarding van die besnydenis was glad nie so onskuldig soos die

dwaalleraars dalk voorgegee het nie, maar het deurgedring tot die kern van die evangelie. As

hulle hulle laat besny, sal Christus vir hulle geen betekenis hê nie.

Die besnydenis was simbool van die hele wet van Moses, en daarom sê Paulus in vers 3 dat as

’n gelowige hom laat besny, is hy verplig om die hele wet te onderhou. Hy voel so sterk hieroor

dat hy onder eed hieroor getuig. As jy die wet van God aanvaar soos die Jode dit gedoen het,

aanvaar jy die beginsel, die uitgangspunt, dat jy jou redding met jou gehoorsaamheid probeer

verdien. So plaas jy jouself weer onder die slawejuk van die wet. En as jy dink dat jy van jou

sonde vrygespreek word op grond van jou onderhouding van die wet, verbreek jy jou band met

Christus en verbeur jy die genade van God – wat ’n skokkende gedagte! Paulus is kwaad vir die

gelowiges wat die dwaalleraars se praatjies geglo het want hulle was so goed oppad (v.7) op die

weg van vryheid van Christus, bevry van die verdienste van die wet en gered uit genade alleen.

Maar hierdie dwaalleraars het hulle omgepraat en stuur hulle weg van die waarheid af oor die

afgrond van eie verdienste.

Sou Paulus, broer en suster, dieselfde van ons kon sê? Dat ons so goed op pad was maar

omgepraat is om van die pad van genade en vryheid af te draai. Ons hele bestaan draai om

verdienste: ek verdien my salaris, my bonus, my bevordering, my status, my reputasie, my

sakgeld; ons leer ons kinders dat hulle gehoorsaamheid vir hulle beloning verdien – as jy dit of

dat doen of nie doen nie, gee ek vir jou...; ons kyk op mense neer wat nie bereid is of in staat is

om iets te verdien nie – boemelaars en bedelaars; ons is gesteld daarop dat ons werknemers

hulle loon moet verdien, anders voel ons ingedoen; ons is selfs suspisieus oor iets wat gratis

aangebied word – wat is die vangplek? En in die kerk? Ja, ons bely graag ons vryheid, maar wat

dryf ons tot gehoorsaamheid? Wat motiveer ons om vanoggend hier te wees, om ons dankoffers

te gee, om aan ’n kleingroep te behoort, om mee te leef met mekaar, om uit te reik na ander?

Werklik ons dankbaarheid vir God se genade en sy vryheid, of eintlik ook maar die idee dat ek

genoeg doen, genoeg verdien, genoeg krediete bymekaar maak om God of die ouderling of

predikant of my gewete of my stille gevoel van kompetisie met my medegelowiges mee tevrede

te stel – ek gee meer, doen meer, verdien meer as so-en-so? Die Here, broer en suster, vra

vanoggend na elkeen van ons se hartsgesindheid: sy genade en vryheid of my verdienste?

2
Vrygemaak van verdienste

Vir Paulus kan die evangelie van Jesus Christus in een woord opgesom word: vryheid. Dit is ook

’n deurlopende tema in sy brief aan die Galasiërs. Vryheid is die begin en die einde van die

evangelie. Voor die sondeval was die mens vry maar hy is deur die sonde tot slaaf gemaak. En

net vrymaking kan hierdie verslawing tot ’n einde bring. Christus kom om dit te doen deur ons

van die vloek van die wet los te koop (3:13), ons van ons sondes vry te spreek (2:16), ons te

verlos uit die goddelose wêreld (1:4), ons te bevry van ons slawebestaan in diens van die sonde

en die dood (3:11). Ons is nie meer slawe nie maar kinders en erfgename van God (4:7).

Christus is ons Verlosser, ons Bevryder, en die kern van sy werk is bevryding of dan die herstel

van ons vryheid. En ons verkry hierdie vryheid deur die werking van die Gees, want waar die

Gees van die Here is, is daar vryheid (2 Kor 3:17). Vers 1 is ook vir ons waar: Christus het ons

vry gemaak om werklik vry te wees. En daarom moet ons vasstaan in die vryheid en ons nie

weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Vryheid bring egter verantwoordelikheid mee en een manier om menslikerwys jou

verantwoordelikheid te omseil is om sekuriteit – verdienste – in vaste reëls eerder as in die

uitleef van jou vryheid in Christus te soek. As ek maar net vaste reëls moet nakom, hoef ek my

nie te verantwoord oor die keuses wat ek maak nie – ek kom mos maar net die reël na. As ek

die reël nakom, het ek genoeg gedoen – ek het verdien wat ek kon verdien. Daarom soek ek

reëls vir my hele lewe, en die Jode het dit in die wet van Moses, en die honderde wette en reëls

wat hulle self daaruit gemaak het, gevind. Die Judaïste wou die gelowiges weer in hierdie stel

vaste reëls indwing – ’n nuwe slawejuk wat die gelowiges van hulle vryheid sou beroof. Maar

Christus was juis ter wille van ons gehoorsaam tot in die dood (Fil 2:8) om ons vryspraak te

verdien – volkome, 100% – sodat daar vir ons niks is om verder te verdien nie. Wat ons ook al

dink ons verdien, tel net in ons gemoed – by God is ons rekening ten volle betaal! By God tel net

geloof as manier waarop ons deel kry aan die vryspraak – ek moet glo om gered te word, nie

gehoorsaam wees nie. Ek moet glo dat Christus se verdienste 100% voldoende is en dan word

ek gered. As ek enige gedagte koester dat ek iets (al is dit net 0.001%) van my redding moet

verdien, verbreek ek my band met Christus en verbeur ek God se genade.

3
Geloof wat tot liefdesdade oorgaan

Ons teksvers bevestig die basiese waarheid van die evangelie: “In Christus Jesus is dit nie van

belang of jy besny is of nie.” Hy het ons bevry van die verdienste van die wet! Tog beteken dit

nie dat die wet niks vir ons beteken nie. Jesus self sê dat Hy gekom het om die wet sy volle

betekenis te laat verkry (Mat 5:17). Die wet vorm deel van die nuwe werklikheid wat vir ons in

Christus oopgaan maar op ’n ander manier as in die ou bedeling waarna die Judaïste wou

terugkeer. Die besnydenis en die ander seremonies en rituele van die wet het hulle krag en

betekenis in Christus verloor. Dit het nie meer gelowige (Jood) van ongelowige (nie-Jood)

onderskei nie. In die nuwe bedeling is geloof die bepalende faktor eerder as eksterne

onderskeide. Die vryheid wat ware geloof bring, moet juis in die eksterne onderskeide na vore

kom – Paulus het nooit gelowiges gekritiseer wat wel besny was maar in die vryheid van

Christus geleef en ander laat leef het nie.

En tog geld die wet in sy wese nog steeds – dit is immers ook God se wet van liefde (Deut 6:5;

Lev 19:18; Mat 22:34-40) wat in Christus juis groter en meer intense gehoorsaamheid van ons

verg – nie net uiterlik nie maar ook innerlik, in ons harte en gedagtes. Ons geloof moet in

Christus deur die liefde tot dade oorgaan, sê ons teksvers. In ons vryheid van die verdienste van

die wet, moet ons uit dankbaarheid ons hele lewe op Christus en sy liefde rig, en dít teenoor

mekaar en ander mense uitleef. Dit is nie “werke van die wet” (Rom 3:27) wat jou redding voor

God moet verdien nie, maar eerder werke van geloof wat uiting van jou liefde vir God en jou

medemens is. Dit is aktiewe dankbaarheid, diens, aanbidding gedryf deur die liefde van God in

jou hart! So kom die vryheid in Christus prakties tot uiting in die vrug van die Gees (5:22-23):

liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en

selfbeheersing. As ek werklik in die vryheid van Christus leef, dink ek nooit aan verdienste nie

maar wel aan dankbare liefdesdiens. Dan soek ek nie vaste reëls nie maar laat my deur die

liefde lei om keuses te maak wat van my geloofsvryheid getuig. Dan het ek nie reëls nodig om

getrou en toegewyd te wees nie: ek is vry om in liefde te dien! Dan doen ek alles wat God van

my vra – in die kerk en daarbuite – sonder om vir ’n oomblik te dink wat ek daardeur verdien.

Opsomming

Beleef ons dieselfde krisis as die gemeentes in Galasië? Ek dink so, broers en susters. Christus

het ons vrygemaak om werklik vry te wees, maar ons sukkel om ons vryheid uit te leef. Ons

4
soek maar altyd weer na reëls: hoeveel moet my dankoffer wees? Hoe gereeld moet ek kerk toe

kom? Moet ek by ’n Bybelstudiegroep of kleingroep aansluit? Ons laat ons weer onder ’n

slawejuk van verdienste en “ek het genoeg gedoen” indwing! Nee, Christus wil dat ons geloof

wat ons laat deel kry aan sy verdienste deur liefde tot dade moet oorgaan. Dán leef ons werklik

in sy vryheid! Hy wil dat ons verantwoordelikheid moet neem sonder die veiligheidsnet van reëls

en regulasies, en eerder liefdevolle keuses vir gehoorsaamheid teenoor Hom en selfopoffering

teenoor ons medemens moet maak. Dán leef ons werklik in sy vryheid! Mag sy Gees ons die

geloofsoortuiging gee om altyd nader aan Hom en sy vryheid groei en verder weg van vaste

reëls en eie verdienste.

AMEN.

–––oOo–––

5