06.01.2016 Views

NOORD VAN JOU HART GEBEUR DAAR 'N BREIN

1TuTFab

1TuTFab

SHOW MORE
SHOW LESS

Create successful ePaper yourself

Turn your PDF publications into a flip-book with our unique Google optimized e-Paper software.

NOORD VAN JOU HART

GEBEUR DAAR 'N BREIN

'n tendens verslag oor die nuutste neurologiese bevindinge

'N EKERK TENDENS VERSLAG

SAAMGESTEL DEUR STEPHAN JOUBERT

WWW.EKERK.ORG

NOORD VAN ONS HART

GEBEUR DAAR 'N BREIN

Hollywood het die spyker op die kop geslaan! Hulle het ̓n

fliek gemaak oor hoe die brein werk. En die beste is dat dit ̓

n kinderanimasiefliek is wat enigiemand kan verstaan. Die

studie van hoe die brein werk (neurowetenskap) het so

belangrik geword dat die meeste areas in ons lewens,

asook die akademiese wêreld, nou daarvan begin kennis

neem. Alles wat ons as mense beleef, begin in die brein:

ons bewussyn, ons interpretasie van die werklikheid, die

funksionering van ons liggame, ons gevoelens, ons geheue

en nog baie meer.

Alles gebeur in ons brein, selfs ons geloof! Hollywood het

dit onlangs gepopulariseer in Disney en Pixar se

animasiefliek, Inside Out. Die wetenskap agter Inside Out

kom hoofsaaklik van twee neurosielkundiges, Dacher

Keltner en Paul Ekman, wat veral belangstel in die rol wat

emosies in die werking van die brein speel. Inside Out

vertel die storie van ̓n elfjarige dogtertjie genaamd Riley in

haar amper-tiener-jare. Die fliek speel op twee vlakke af: dit

vertel in die eerste plek haar storie as die kind van twee

liefdevolle ouers. Sy word gelukkig groot met baie aandag

en sorg. Haar verhoudingswêreld spat dan aan skerwe

wanneer haar gesin na ̓n nuwe omgewing waar Riley

ontwortel voel en al hoe meer ontnugter raak in haar jong

lewetjie. Dinge begin spoedig skeefloop in Riley se lewe.

Die fliek vertel ook ‘n tweede storie, wat in Riley se brein

afspeel. Haar gedagtes, emosies en algemene

breinaktiwiteit word uitgebeeld as karakters en gebeure

binne-in haar brein en bewussyn. Die fliek wys noukeurig

en stap-vir-stap hoe elke emosie wat sy beleef, van die

oomblik wanneer sy as nuwe babatjie haar ogies oopmaak, ̓

n herinnering (“memory”) vorm wat dan snags terwyl Riley

slaap in haar langtermyngeheue gestoor word. Die

belangrikste herinneringe wat sy beleef is wat in die fliek

haar kernherinneringe (“core memories”) genoem word. Dit

word gevorm deur die sleutelemosies wat Riley op die

belangrikste oomblikke in haar lewe ervaar, soos

byvoorbeeld die eerste keer wat sy leer loop het of haar

eerste hokkiewedstryd. Haar emosies en herinneringe word

ook sterk beïnvloed deur die mense met wie sy hierdie

oomblikke deel. Elke kernherinnering vorm en voed dan ̓n

spesifieke hoofdeel van Riley se ontwikkelende

persoonlikheid. So ontvou die res van die storie dan. Later ̓n

bietjie meer oor die fliek wanneer ons oor emosies praat.

In kerk- en teologiese kringe word daar ook nagedink oor

neurowetenskap en saam met Inside Out is die punt van

hierdie tendensverslag dat wat in ons brein gebeur,

deurslaggewend is vir ons lewens! Maar hoe werk die brein en

watter impak het breinaktiwiteit op ons verhouding met God?

Hierdie verslag wil jou graag help om hieroor te dink.

ONS BREINE IS PLASTIES

EN OOK BLITSVINNIG

Ons kop verander lewenslank. Trouens, die voortdurende

vorming van breinselle in die volwasse brein, bekend as

neurogenese (“neurogenesis”), word as die belangrikste

ontdekking beskou gedurende die sogenaamde Amerikaanse

“dekade van die brein” (1990-1999). “Neuroplastisiteit”,

oftewel die aanhoudende groei van die brein, word vandag

algemeen aanvaar.

Ons brein bestaan uit enigiets vanaf 23 miljard selle (volgens

konserwatiewe skattings) tot sowat 100 miljard selle, volgens

die gewildste beramings. Breinselle, algemeen bekend as

neurons, praat met mekaar deur chemiese boodskappers

genaamd neuro-oordragstowwe (“neurotransmitters”) wat

telkens ’n gaping bekend ’n sinaps tussen twee breinselle

moet oorbrug. ’n Sinaps is minder as ’n duisendste van ’n

millimeter in deursnee. Vertakkings vanuit neurons, bekend

as aksone, vervoer inligting na die dendriete of

ontvangervertakkings van ’n daaropvolgende neuron. Waar

hierdie vertakkings bymekaar kom, sonder om egter fisies

aan mekaar te raak, vind daar ‘n sinaps plaas. Neurooordragstowwe

sorg dat ‘n elektriese impuls hierdie

mikrospasie oorbrug om inligting na die ontvangerbreinsel se

dendriet aan te gee. Meer as 60 verskillende neuro-

oordragstowwe is werksaam in ons brein (Arden,

2010:6). In ons brein is daar ook ’n wit stof

bekend as miëlien wat nuwe aksone omhul en

isoleer. Hierdie miëlienomhulsels, wat sowat 50%

van die brein se spasie opneem, bepaal die

spoed en sterkte van sinapse.

Die gemiddelde neuron kan tot 'n duisend of

meer sinaptiese verbindings vorm. Geleerdes

meen daar kan tot 1,8 miljoen nuwe sinaptiese

verbindings per sekonde in die brein ontstaan.

Stephen Smith van Stanford Universiteit, wat

nuwe tegnologie ontwikkel het om sinaptiese

verbindings in die prefrontale korteks of

denkende deel van ons brein te tel, meen hierdie

area alleen bevat tot soveel as 125 triljoen

sinapse (http://med.stanford.edu/news/allnews/2010/11/new-imaging-method-developedat-stanford-reveals-stunning-details-of-brainconnections.html).

Hoe meer sekere breinselle saamvuur, hoe meer

groei hulle saam, en hoe meer vorm daar sterk

konneksies tussen hulle. Vandaar die uitdrukking

onder breinnavorsers: “Brain cells that fire

together, wire together.” Hoe meer gereeld

sekere neurons saamvuur, hoe vinniger doen

hulle dit ook en hoe meer versterk daardie roetes

waarop dit gebeur. Ons brein verkies juis om

inkomende inligting altyd oor bekende koproetes

te stuur omdat dit minder energie verg.

Ons brein is blitsvinnig. ’n Neuron kan tot soveel

as 200 keer per sekonde vuur. Breinspoed is

egter nie altyd konstant nie. Dit hang af watter

take ons brein uitvoer en hoe geoefend dit is met

betrekking tot die vlakke van kompleksiteit wat ter

sprake is. ’n Studie deur Moscoso del Pradon in

2009 (http://www.technologyreview.com/

view/415041/new-measure-of-human-brainprocessing-speed)

toon aan dat die brein tydens

die uitvoer van sekere leksikale take tot 60 grepe

(“bits”) per sekonde kan prosesseer. In ’n

opspraakwekkende studie bevind Potter en ander

(2014:270-279) dat die brein visuele beelde

reeds binne 13 millisekondes kan prosesseer

teenoor vroeëre waarnemings dat dit sowat ’n

tiende van ’n sekonde neem.

NATURE VS NURTURE - ONS

GENETIESE MATERIAAL

TEENOOR ONS OMGEWING

Ons erf ons genetiese materiaal van ons ouers en voorouers. Ons gene

bepaal aanvanklik watter breinselle onderling moet verbind, en ook wanneer

dit moet gebeur. Gene speel ’n krities-belangrike rol in fetale breinvorming en

in die aanvanklike verskuiwing van biljoene protoneurons in die brein. Ook is

gene van uiterste belang in die vorming van ons twee breinhelftes. Aan die

hand van ons unieke DNA ontvang ons gene sekere instruksies (amper soos

in ’n resepteboek) om proteïene te vorm wat dien as die boublokke van ander

sisteme in ons liggaam. Tog het ons te min genetiese materiaal teenoor

neurons om ons lewe te oorheers. Navorsers reken ons het slegs tussen 20

000-25 000 proteïengekodeerde gene. Ons is dus nie uitgelewer aan ’n kop

wat volledig geprogrammeerd by ons afgelewer is met ons genetiese

materiaal as die enigste storieskrywer nie. Die Nobelpryswenner, Eric

Kandel, skryf in dié verband dat die lewe gedurig ons brein help vorm. Ons

genetiese materiaal kan dit nooit eensydig oorheers oorroep nie. “The fact

that a gene must be switched on to form long-term memory shows clearly that

genes are not simply determinants of behavior but are also responsive to

environmental stimulation, such as learning” (2006:132). Ons brein kan

gedurig “rewire,” want dit word gekenmerk deur plastisiteit. Trouens: “it takes

less than two weeks for a neuron to grow new axons and dendrites, and in

some cases the change occurs suddenly” (Newberg & Waldman, 2009:104).

ONS BREIN KAN NIE

'MULTITASK' NIE

Vandag het die meeste navorsers dit eens dat die brein nie kan

“multitask” nie; goed geoefende koppe kan net inligting vinniger

as ander prosesseer. Ons brein gaan altyd “sequentially” of

opeenvolgend om met inligting. John Medina (2008:92) skryf:

“The brain is a sequential processor, unable to pay attention to

two things at the same time.” In ’n Franse studie in 2010 het

navorsers verskillende, maar gelyktydige take aan indiwidue

gegee om te verrig terwyl hulle breinfunksies met fMRIskanderings

gemonitor is. Hulle het bevind dat “our brains are

set up to do two things at once, but not three” (Hamilton, 2010).

Wanneer meer as twee doelwitte aan deelnemers gegee is met

belonings en al, kon hulle kop dit nie gelyktydig hanteer nie.

Miskien is dit hoekom die huidige digitale generasie soms sukkel

met volgehoue konsentrasievlakke. Mense wat vir lang tye aan

sosiale media blootgestel is, se kop is gedurig aan die verskuif

tussen inkomende sms’e, e-posse, twiets en Facebookboodskappe.

Studies wys dat sulke aanhoudende onderbrekings

maak dat persone tot 50% langer vat om sekere take af te

handel as diegene wat slegs op die take fokus.

VOORGROND EN

AGTERGROND IN ONS KOP

Impulse wat ons brein op enige gegewe oomblik as die

belangrikste beskou, ontvang ons kop se aandag. Onnodige

impulse word geblokkeer sodat ons brein kan fokus op daardie

take, uitdagings en situasies wat as die vernaamstes beskou

word. Hierdie keuses word gemaak deur ons kop se “alerting

and arousal system.” Hiermee saam is daar ook nog ’n

uitvoerende of “executive” sisteem wat ons tot aksie laat

oorgaan. Hierdie prosesse word onder andere vanuit ’n area in

ons breinstam geaktiveer wat bekendstaan as die “retikulêre

aktiveringsisteem" (RAS). Saam met die talamus in ons brein is

hierdie RAS verantwoordelik vir besluite oor watter sensoriese

inligting of stimuli aandag kry, en watter nie. Dit werk soos ’n

hekwag en gebeur sonder dat ons daarvan bewus is, sodat ons

nie deur massas inkomende stimuli oorweldig word nie.

Ons RAS is ’n hoogs aktiewe sisteem wat soos ’n sensitiewe

skakelaar of “toggle switch” enigiets vanaf “hot arousals” tot

rustige toestande veroorsaak. Pierce Howard (2006:47) sê:

“When we become emotionally charged, as in the fight-or-flight

response, the RAS shuts down the cerebral cortex, or learning

brain. For all practical purposes, when the cortex is shut down,

we proceed on ‘automatic pilot,’ where instinct and training take

over.” Eers as sulke onmiddellike bedreigings verwyder is,

skakel ons denkende brein weer aan.

NUWE DEURBRAKE

RONDOM DIE VERSTAAN

VAN GEHEUE

Eric Kandel (2006) het bevind dat ons

brein aanhoudend nuwe neurale

verbindings skep om nuwe ervarings te

prosesseer. Ons korttermyngeheue bring

bepaalde biochemiese veranderinge in die

brein se sinapse aan. In die geval van die

vorming van langtermyngeheue vind daar

selfs anatomiese veranderinge plaas,

omdat nuwe sinaptiese terminale in die

brein ontstaan. “In both, short-term

memory involves covalent modification of

preexisting proteins and changes in the

strength of preexisting synaptic

connections, while long-term memory

requires the synthesis of new protein and

the growth of new connections” (Kandel,

2009:12750).

Voordat langtermyngeheue gevorm het in

een bepaalde neuron waarop Kandel en

sy span gefokus het, het dit sowat 1 300

sinaptiese verbindings met 25 ander

neurons gehad, waarvan 40% aktief was.

Na die vorming van langtermyngeheue het

die sinaptiese verbindings in hierdie

neuron meer as verdubbel tot 2 700, en

die verhouding van aktiewe sinaptiese

verbindings het opgeskuif tot sowat 60%.

Solank as wat hierdie nuwe

langtermyngeheue in stand gehou is, het

genoemde aktiwiteite in plek gebly. Toe

hierdie herinneringe begin verdwyn, het

die sinaptiese verbinding weer tot 1 500

verminder.

Nuwe navorsing oor die vorming van

geheue toon aan dat ons kop nie oor en

oor presies dieselfde informasie onthou

nie. Ons geheue word op ingewikkelde

maniere herskryf elke slag as ons dit

herbesoek. Ons brein lê telkens nuwe

proteïene neer en vorm nuwe sinaptiese

verbindings rondom bepaalde

herinnerings. Naseem Nader, ’n

neurowetenskaplike, meen hy het

genoeg bewyse om aan te voer dat die

blote daad van herinnering alreeds

daardie spesifieke herinneringe in die

brein herskryf. Dit is ’n stap verder as

Eric Kandel se navorsing oor geheue

hierbo, wat bevind het dat

korttermyngeheue nuwe chemiese

veranderinge in ons sinaptiese roetes

tot gevolg het, maar dat

langtermyngeheue letterlik in die brein

ingebou word. Al verweer daardie einste

herinnering met die jare, bly die basiese

boustene steeds dieselfde, aldus

Kandel. Naseem Nader meen egter

daar gebeur veel meer, in die lig van sy

studies met rotte. Hy wou naamlik

vasstel wat gebeur as hulle bepaalde

herinneringe herroep. Direk nadat hy

die rotte aan ’n hoë biepgeluid

blootgestel het, het hy hulle ’n ligte

elektriese skok gegee. Toe het hy 24

uur later weer hierdie biepgeluid

gespeel en die rotte dadelik ingespuit

met ’n middel wat die vervaardiging van

daardie proteïene keer wat noodsaaklik

is vir geheuevorming en herroeping.

Nader se argument is dat as die rotte se

herinneringe 24 uur tevore die eerste

keer na daardie biepgeluid vasgelê is,

dan sou hierdie middel geen effek hê

nie. Aan die anderkant, as herinneringe

elke slag (of ten minste gedeeltelik)

neurologies herbou moet word, dan sal die

rotte die biepgeluid ignoreer asof hulle dit

nie aangeleer het nie. Selfs Joseph

LeDoux het nie gemeen dit sou gebeur

nie, maar toe het dit!

Al is Naseem Nader se teorie nog onder

bespreking, is hierdie ̛n belangrike

aanduiding dat ons brein moontlik ons

herinneringe hervorm elke keer dat dit

herroep word. Die Smithsonian, wat sy

fassinerende navorsing met ons deel

(http://www.smithsonianmag.com/

science-nature/how-our-brains-makememories-14466850/?no-ist=&page=4),

verwys na nog soortgelyke studies. Feit

is, ons geheue is nie in sement gegiet

nie. Ons hoef nie lewenslank onder

goor herinneringe te ly nie. Ons kan dit

aanpas, herbedink, krimp en uiteindelik

die pyn daarvan minimaliseer en

wegneem. Selfs onder normale

omstandighede is enige herinnering “…

not simply an image produced by time

traveling back to the original event—it

can be an image that is somewhat

distorted because of the prior times

you remembered it,” meen Donna

Bridge (2012).

EMOSIES IS

GROOT

Anthony Damasio, ’n bekende

neurowetenskaplike, meen ons is verkul

deur een van die vaders van die moderne

Westerse samelewing, René Descartes.

Met sy beroemde spreuk: cogito ergo

sum (“ek dink, daarom is ek”), het hy die

mens as denkende, logiese wese

voorgehou. Damasio (1994) meen egter

ons is primêr emosionele wesens wie se

besluitnemingsvaardighede nie op logika

berus nie, maar op emosies wat ons

rasionele vaardighede rig en bestuur.

Hierdie deel word baie kreatief en kundig

uitgebeeld in Inside Out. Die fliek toon die

fundamentele invloed van Riley se

emosies soos vreugde, vrees, hartseer,

woede en walging op die ontwikkeling

van hierdie hoofdele van haar

persoonlikheid. Emosies word alles in

Riley se lewe: haar verhoudingswêreld,

interaksie met haar ouers en vriende,

haar sportprestasies en haar selfvertroue.

Die wetenskap agter die fliek word

vernuftig in die narratief ingeweef en wys

vir ons hoe dit emosies is wat ons denke

(“stream of consciousness”) bestuur, hoe

emosies die herinneringe van die verlede

inkleur en hoe elk van die verskillende

emosies meeding vir beheer oor die

bewussyn. Die animasiefliek dui ook aan

hoe ons identiteit bepaal word deur

spesifieke emosies en hoe dit ons beeld

van die realiteit vorm. Deur Riley se lewe

toon dit aan hoe emosies ons rasionele

denke beheer en dat die een nie

noodwendig die ander se vyand is nie. Dit

wys ook hoe gevoelens bepaal hoe

ons onsself uitdruk en die uitwerking

daarvan op die mense rondom ons. In

die fliek besef ons egter ook hoe ̓n

reeks traumatiese gebeurtenisse kan

maak dat iets soos vrees later kan

oorneem as die hoofemosie, Dit kan

dan om die beurt veroorsaak dat die

kernherinneringe erodeer en plek

maak vir destruktiewe hoofdele wat

deel van ̓n persoon se samestelling

kan word. Navorsing blyk in lyn te

wees met die fliek: Emosies staan

sentraal.

Emosies neem die voortou bo denke

wanneer dit oor breinspoed gaan.

Louis Cozolino (2006:133) verwys na

navorsing wat bevind dat: “although it

takes our brain 400-500 milliseconds to

bring sensations to conscious

awareness, it takes only 14

milliseconds to implicitly react to, and

categorize visual information.” Ons

voel en ervaar lank voordat ons

daaroor begin nadink. Die amigdala

(twee organe in ons brein wat so groot

soos amandels is en wat diep in die

temporale lobbe gesetel is) is die

“speed dial” of spoedbel-opsie van ons

brein. Binne enigiets vanaf 13-50

millisekondes neem ons brein impulse

waar terwyl ons amigdala vanaf sowat

20 millisekondes hierop reageer.

LIGLOOP VIR

VREES

Die amigdala is ̓n stil, maar

blitsvinnige orgaan in ons brein. Dit is

tot die tande toe gewapen met neurooordragstowwe

soos dopamien en

noradrenalien wat weerlig-vinnige

reaksies in ons liggaam veroorsaak.

Cozolino (2006:167) sê: “the primary

role of the amygdala … is to

modulate vigilance and attention in

order to gather information,

remember emotionally salient events

and individuals, and prepare for

action.” Vrees is ’n groot skakelaar in

ons amigdala. Daarom moet ons

amigdala getem word, anders skakel

dit ons denkende brein of prefrontale

korteks later uit. Dit kan die werking

van die hippokampus in ons brein,

wat betrokke is by ons eksplisiete

geheue, negatief beïnvloed. Ons

amigdala wil ons laat oorleef by wyse

van impulse wat ons moet laat vries,

veg of vlug, nie om ons te laat dink

nie.

Ons brein se prefrontale korteks is

ook betrokke by ons gedagtes en

emosies. Dit dien as ons sosiale brein

wat empatie en ander gevoelens van

omgee onder die regte

omstandighede laat groei. As ons

amigdala egter te veel kortisol in ons

liggaam vrystel om ons in veg-, vriesof

vlugmodus te hou, skakel dit

daardie reseptore vir kortisol in ons

hippokampus af. Onder volgehoue

afskeidings swig ons hippokampus

uiteindelik en begin atrofieer of

wegkwyn. In gewone taal gesê, ’n

lewe van aanhoudende angs, stres

en vrees gee aanleiding tot die

beskadiging van ons brein (en by name,

ons geheue) omdat ons hippokampus

krimp. John Arden (2010:32) sê dat

dieselfde egter nie met die amigdala

gebeur nie. Verhoogde kortisol (asook die

neuro-oordragstof glutamaat) maak dit nog

meer sensitief. Kroniese stres lei tot

toestande waar ’n ooraktiewe amigdala

later enige normale gebeure in ons lewe

begin verstaan in terme van vries, veg of

vlug. Helaas stel ons amigdala nie belang

in die detail van enige situasie as dit eers

geaktiveer is nie. As dit geleer het om af te

gaan te midde van enigiets vanaf harde

geluide; skielike bewegings rondom ons in

die donker, tot by moontlike aggressiewe

uitdrukkings op mense se gesigte, sal dit

hiermee aanhou totdat ons hierop ingryp.

Die hippokampus in ons brein is

lewensbelangrik wat die vorming van

gesonde oordeel en veral

langtermyngeheue betref. Wanneer dit

ingeperk word, verloor ons ’n gesonde en

gebalanseerde perspektief op die lewe.

Ons vermoë om verskillende opsies te

oorweeg en met wysheid na die lewe te

kyk, word drasties beïnvloed deur ’n

ooraktiewe amigdala (asook deur

glutamaat). Dit beskadig selle en skei ook

daardie berugte vrye radikale af wat ander

breinselle kan vernietig en dendriete (die

inligtingontvangers in ons breinselle) laat

terugkrimp. Die praktiese gevolg, aldus

Arden, is katastrofies (2010:33): “Thoughts

and emotions become more rigid and

simple. Your decisions will be rigid and will

probably be destructive instead of

constructive.”

NADENKE KEER EMOSIONELE

BREINVERSTOPPING

Gefokusde en kreatiewe denke is noodsaaklik. Dan kalmeer jou

amigdala. LeDoux (2003:217) skryf dat die amigdala en prefrontale

korteks in ’n wederkerige verhouding tot mekaar staan. “… in order

for the amygdala to respond to fear reactions, the prefrontal region

has to be shut down. But, by the same logic, when the prefrontal

region is active, the amigdala would be inhibited, making it harder to

express fear.” Ons kan negatiewe emosies stokflou dink. Ons

nadenkende brein is ons kop se bewustelike, maar

lewensnoodsaaklike tweede opinie op goor emosies. Al is die

denkende breinroete (via die hippokampus en neokorteks) stadiger, is

dit meer akkuraat en genuanseerd as ons lae breinroete via die

amigdala, wat vinniger maar terselfdertyd ook minder akkuraat is wat

waarnemings betref. Joubert (2014:43-44) sê: “Ons denkende brein

prosesseer ons ervarings, al onthou dit alles in ons lewe in terme van

emosies. In gewone taal gesê, ons is diep emosionele wesens. Ons

voel diep en onthou emosioneel. Emosies is interne skakelaars wat

ons aanspoor om tot aksie oor te gaan. Ons ervarings uit die verlede

(soos wat ons dit emosiebelaaid onthou) speel ‘n reuse rol hierin, al

gebeur dit onbewustelik. Daarom dat ons moet sorg dat blinde

emosies nooit die oorhand in ons lewe kry nie. Want hulle is

blitsvinnig en soms lewensgevaarlik. Ons emosies is bedoel om ons

te laat oorleef, nie om ons lewe oor te neem of eksklusief te stuur nie.

Wysheid is om te weet ons skuld ons emosies altyd '̛n tweede, goed

deurdagte opinie. Wysheid is om toe te laat dat die Here ons denke

verander en vernuwe in die spore van Romeine 12:1-2.”

NEGATIEWE TAAL KAN

BREINSKADE VEROORSAAK

Negatiewe taal beskadig nie net ander se

lewens nie, maar ook ons brein. Twee

neurowetenskaplike navorsers op die

gebied van die rol van geloof en die brein,

Andrew Newberg en Mark Waldman, sê in

die boek, Words can change your brain

(2012) dat as ons ’n fMRI-skandering op

ons brein sou kon sien wanneer die

Engelse woord: “NO” vir minder as ’n

sekonde voor ons oë flits, ons sal opmerk

hoedat massas hormone wat stres

veroorsaak en neuro-oordragstowwe

dadelik in ons kop vrygestel word. Hulle

verwys ook na navorsing wat bevind het

dat om bloot net ’n klompie negatiewe

terme voor depressiewe persone se oë te

flits, hulle toestand onmiddellik vererger.

Negatiewe taal verrinneweer ons brein.

Waldman en Newberg skryf egter in ’n

blog in Psychology Today (https://

www.psychologytoday.com/blog/wordscan-change-your-brain/201208/the-mostdangerous-word-in-the-worl?)

dat wanneer

ons die woord “NO” (“NEE”) saam met

negatiewe gesigsuitdrukkings gebruik,

aktiveer ons nie net bepaalde

streschemikalieë in ons brein nie, maar

ook in dié van ons hoorders: “The listener

will experience increased anxiety and

irritability, thus undermining cooperation

and trust. In fact, just hanging around

negative people will make you more

prejudiced toward others!”

Enkele implikasies vir gelowiges oor die

nuwe verstaan van die brein.

a. God is nie ’n skepping of

gevangene van ons brein nie

Godsdiens, in die woorde van Wilson (in

Alper, 2001:66), is “one of the

universals of human behaviour, taking

recognizable form in every society …”

Geen wonder dat neuroteoloë oor die

afgelope jare begin vra het of daar nie

iets soos ’n godsdienstige geen, “a

religious gene”, bestaan nie, en of daar

nie moontlik ’n bepaalde area in die

brein is wat opsy gesit is vir geestelike

ervarings nie. Dit sou impliseer dat ons

“hard-wired” of geneties bedraad is om

in geestelike realiteite te glo. In die

1990’s het ’n paar geleerdes

aangekondig dat hulle wel ‘n “God spot”

of ’n “God module” in die brein gevind

het. Dit het gebeur toe hulle die breine

van slagoffers van ’n bepaalde vorm

van epilepsie bestudeer het. Wanneer

hierdie pasiënte by name aan God

gedink het, is ’n bepaalde area in hulle

temporale breinlobbe elke keer

geaktiveer.

Vandag word hierdie idee van een

godsdienstige module in die brein glad

nie meer aanvaar nie. Verskillende

studies in dié verband toon aan dat

meer as ’n dosyn areas in die brein

aktief is wanneer mense se

godsdienstige ervarings met

breinskanderings nagegaan word. Die

Science Daily van 19 April 2012 (http://

www.sciencedaily.com/

releases/2012/04/120419091223.htm)

maak melding van ’n studie by die Universiteit van Missouri

onder leiding van Brick Johnstone wat onderstreep dat

spiritualiteit op dinamiese maniere in die brein gebeur

omdat verskillende dele saamwerk om sulke belewenisse te

fasiliteer. Johnstone kom tot die volgende gevolgtrekking:

“We have found a neuropsychological basis for spirituality,

but it’s not isolated to one specific area in the brain.”

Neuronavorsers soos Newberg en ander is van mening dat

ons brein op só ’n unieke manier saamgestel is dat dit

inderdaad bedraad (“hard-wired”) is vir godsdiens. Saam

met die brein se kapasiteit vir analitiese nadenke, abstrakte

wiskundige berekenings, kreatiwiteit, ensovoorts, het dit

ook ̛n ingeboude vermoë om God te ervaar. Newberg,

D’Aquili en Rause (2002:53) meen daarom dat die brein

ook een van die plekke is waar God Homself laat ken. Tog,

ten spyte van die waarde van neuroteologiese invalshoeke

op spiritualiteit, kan dit nie die ewige bestaan van God, of

die uniekheid van ons geloof verklaar of finaal beoordeel

nie. Trouens, ons brein kan nie eens behoorlik tussen

uiterlike werklikhede en interne ervarings hiervan onderskei

nie. Ons benut maar dieselfde koproetes wanneer ons aan

iets dink of droom as wanneer ons dit direk beleef.

Augustinus was in die kol toe hy aan die begin van die

vyfde eeu in sy Belydenisse geskryf het dat God ons vir

Homself gemaak het en dat ons harte (en ons brein!)

rusteloos is totdat dit rus vind in Hom. God is nie ̓n produk

van ons brein nie. Nog minder is Hy ̛n gevangene van ons

kop … of enigsins afhanklik van ons begrip en belewenisse

van Hom. God is wie Hy is, ongeag wat ons van Hom dink,

glo of verstaan. Al weet ons vandag op meer genuanseerde

maniere as ooit dat God ervaarbaar is deur die brein, kan

wetenskaplike studies nie die Drie-enige God ontdek en

navors asof Hy ’n objek in een van ons laboratoriums is nie.

Ons kan God se handelinge nie verklaar deur nuwe kennis

van die brein se funksionering nie.

b. Ons moenie net ons harte vir die Here gee nie; Hy

soek dringend ons koppe ook

Om op te hou met dink, lees en oordink, is lewensgevaarlik.

Die bekende Amerikaanse koerant, USA Today (http://

usatoday30.usatoday.com/news/religion/2011-05-25-

ain24_ST_N.htm), het juis op 26 Mei

2011 verslag gedoen van ̓n studie wat

by Duke Universiteit onderneem is, wat

aantoon dat evangeliese Christene se

hippokampus in hul brein kleiner is as

dié van mense in ander kerklike

tradisies. Dit kan impliseer dat hulle hul

denkende koppe veel minder gebruik as

dié van indiwidue in ander

geloofskringe.

Te veel kere is die kerk ’n breindood

sone. Ons kan ons kop met

vrymoedigheid by party kerke se deure

los en dit na die tyd weer ongeskonde

en ongebruik terugvat. Dieselfde

inligting word maar net oor en oor daar

gesirkuleer. Ons het van Kolossense

3:2 vergeet – dat ons ons gedagtes

gedurig moet rig op die dinge van

Christus. Die Here het ons kop nie

ontwerp om staties te wees nie, maar

om aanhoudend te leer en te groei. Ons

is nie die slagoffers van ’n brein wat in

sement gegiet is nie, tensy onsself

toelaat dat dit met ons gebeur. Ons

brein is plasties, rekbaar, groeibaar,

aanpasbaar, veranderbaar, leerbaar …

Hierdie lewensbelangrike feit plaas ons

voor ’n lewenslange uitdaging om ons

koppe aanhoudend in die regte

RIGTING te laat groei. Ons voltydse

verantwoordelikheid is om ons gedagtes

reg te dink en al ons emosies op

gesonde maniere te ervaar. In die taal

van Romeine 12:2 moet ons toelaat dat

God ons denke vernuwe sodat ons sy

wil kan ken. Dit vra ’n

nimmereindigende leergierigheid en

nuuskierigheid. In gewone taal gesê:

ons moet onsself gedurig omring met

goeie boeke en kreatiewe mense. Ons

moet sorg dat ons denke gerek en

uitgedaag word deur denkende

gelowiges.

c. Ons moet ons emosies en denke

onder beheer kry - God S’n!

Herhaling van dieselfde tipe gevoelens,

gedagtes en gedrag in ons koppe skep

gevestigde neurale hoofpaaie waarlangs

inligting vervoer word en waarbinne nuwe

ervarings geprosesseer en ingepas word.

Op hierdie manier vorm gewoontes in ons

lewe – deur aanhoudende herhaling van

denke en gedrag. Aan die anderkant sal

neuroroetes wat nie gebruik word nie,

krimp en in onbruik verval. Judy Willis

(http://www.ascd.org/publications/

books/107006/chapters/

Memory,_Learning,_and_Test-

Taking_Success.aspx) verwys na ’n

navorsingsverslag in 2004 wat aantoon

dat mense wat geleer het om balle in die

lug te hou of te “juggle”, ’n toename in

grysstof in die visuelegeheue-areas van

die brein beleef het. Nadat hulle opgehou

het om dit te beoefen, het die grysstof

egter verdwyn. Dieselfde het gebeur met

mense wat ’n tweede taal aanleer en dit

dan nie beoefen nie. Sy skryf: “The loss of

native language ability, juggling skills, or

learned academic material that is not

practiced is the flip side of the brain's

growth response to learning. It is the “use

it or lose it” phenomenon.”

Ons moet keer dat negatiewe

gedragspatrone in ons koppe vestig,

omdat dit spoedig tot negatiewe

gewoontes en gedrag lei. In 2 Korintiërs

10:4-5 skryf Paulus dat ons gedurig ons

gedagtes moet arresteer. Prakties beteken

dit die doelbewuste verskuiwing weg van

negatiewe en destruktiewe

gedagtepatrone na Christus en na sy

werke toe. Hierdie roete van doelbewuste

nuut dink, nuut voel en nuut doen keer dat

ons opeindig tussen diegene oor wie

Paulus in Efesiërs 4:17-19 skryf in wie se

koppe daar niks goed gebeur nie.

Te midde van al die impulse wat ons voortdurend

bombardeer, kan ons kies aan watter stimuli ons onder

normale omstandighede aandag wil gee. So kan ons

byvoorbeeld ’n wilsbesluit neem om gedurig mense soos

armes, verlorenes, eensames, verwerptes en randfigure raak

te sien en aan hulle aandag te gee. Dan verskuif hulle

algaande na die voorgrond in ons lewe en dan leer daardie

retikulêre aktiveringsisteem van ons brein om hulle op die

voorgrond te hou. Ons kan ook kies om doelbewus ons ore

oop te hou vir goeie nuus en afbrekende stories mis te luister.

Ons kan intensioneel kies om 1 Korintiërs 13:4-7 se roete uit

te leef, veral as Paulus skryf dat die liefde maak dat ons die

beste van mekaar glo en verwag. Dan kyk en hoor ons ander

se “fabrieksfoute” mis en leef hulle raak in Jesus se Naam.

Navorsing toon aan dat gelowiges wat ernstig is oor hulle

geloof, se breine wel in opbouende rigtings groei. In twee

studies in hierdie verband bevind Michaek Inzlicht van die

Universiteit van Toronto (http://www.sciencedaily.com/

releases/2009/03/090304160400.htm) dat die ACC-gedeelte

van die brein (die sogenaamde “anterior cingulate cortex”),

wat registreer wanneer ons eie optrede angs in onsself

veroorsaak, by gelowiges veel minder aktief is as by

niegelowiges. Selfs wanneer gelowiges foute gemaak het, het

hierdie alarmsisteem veel minder kere afgegaan as by die res.

d. Vermy destruktiewe taal; leer nuwe taal aan

Ons affiniteit vir negatiewe taal moet deurbreek word. Dis

uiters skadelik vir ons brein. Terloops, die rede vir mense se

voorliefde vir slegte nuus en negatiewe taal, egter sonder ’n

ooreenstemmende positiewe reaksie in die brein vir positiewe

taal en nuus, is volgens Waldman en Newberg omdat “the

brain barely responds to our positive words and thoughts.

They’re not a threat to our survival, so the brain doesn’t need

to respond as rapidly as it does to negative thoughts and

words.” As ons dus nie aanhoudend en doelbewus positiefopbouende

taal gebruik nie (teen ’n verhouding van minstens

5 positiewe terme vir elke negatiewe term, aldus Newberghulle),

sal ons brein terugval na bestaande negatiewe

taalroetes. Newberg en Waldman (2012:16-17) meen ook dat

ons ook stadiger moet praat, omdat ons korttermyngeheue

inligting net vir sowat 30 sekondes op ’n slag onthou. Op dié

manier onderbreek ons ons brein se

negatiewe vloei van gevoelens wat

uitmond in ons woorde. Ook help ’n

stadiger tempo van praat ons om

helderder te dink.

Taal maak ’n lewensbelangrike deel van

ons geestelike welsyn uit; daarom dat

ons voortdurend ons brein se taal-areas

moet inoefen.’n Studie deur Alia-Klein en

Goldstein (2007:649-659) toon juis aan

dat die bewustelike en herhaaldelike

gebruik van opbouende taal ’n baie

positiewe effek op ons het, omdat dit die

motiverende dele van ons brein tot aksie

laat oorgaan. Dit stimuleer ook belangrike

neuro-oordragstowwe soos serotonien

om ons gemoedstoestand te verbeter en

ons vreugdevol te hou.

nuwe woorde aan in die vorm van

prentjies eerder as om nuwe

versamelings van letters op abstrakte

maniere te prosesseer, soos bevind in

’n studie in Maart 2015 by die

Georgetown Universiteit (https://

gumc.georgetown.edu/news/After-

Learning-New-Words-Brain-Sees-

Them-as-Pictures). Intussen het ’n

studie van Ripollés, Pallarés en andere

(2014:2606-2611) bevind dat die

aanleer van nuwe woorde in die brein

se ventrale stratum, of VS, geaktiveer

word, ’n area wat verantwoordelik is vir

beloning. Dus, hoe meer taal ons leer,

hoe lekkerder raak dit, en hoe meer kan

ons aanleer. Meer neurale konneksies

ontstaan dan in ons kop wat vars

ervarings, belewenisse en betekenisse

aktiveer, begelei en verwoord.

Ons beste taal-inoefenboek in die Bybel

is sekerlik Spreuke. Dit leer ons onder

andere dat die woorde van ’n wyse mens

’n groot seën is (Die Boodskap): “’n

Gelowige se woorde is ’n onuitputlike

bron van inspirasie (10:11). Wanneer ’n

wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe

(10:13). ’n Wyse se woorde is soos saad

wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie

vrug in ander se lewe (12:14). ’n

Gelowige praat altyd die waarheid. ’n

Mens kan op sy woord staatmaak

(12:17). ’n Sagte antwoord laat die woede

bedaar (15:1). Iemand wat kalm oor

probleme praat, se woorde maak heel

(15:4). ’n Wyse dink mooi voor hy

antwoord (15:28). Mooi woorde is soos

iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed

vir die liggaam (16:24). Wie let op wat hy

sê, verstaan wat wysheid is (17:27). ’n

Wyse se woorde is soos ’n borrelende

fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle,

wys hulle op die regte pad (18:4).”

Van taal-aanleer gepraat – ons brein leer

e. Reageer dadelik op hemelse AHAkennis

As gelowiges is ons in die bevoorregte

posisie om God se teenwoordigheid

gedurig te mag beleef. En soos wat Hy

beloof, praat Hy steeds met ons deur

die Bybel en deur sy Gees. In die taal

van die brein: ons as navolgers van

Jesus bevind ons dus in ’n wêreld waar

ons aan hemelse AHA-ervarings

blootgestel is, oftewel, aan daardie

oomblikke van spesiale insig wanneer

ons skielik helderheid kry oor ’n

bepaalde saak of situasie. In 2004 het

Mark Jung-Beeman, John Kounios en

ander navorsers juis gaan kyk na die

fisiologiese prosesse wat sulke AHAervarings

in ons kop begelei. Volgens

hulle fMRI-skanderings op mense wat

eureka-oomblikke ervaar het, verander

hulle breingolwe kort voor die oomblik

van insig, asook hulle

gesigsuitdrukkings. Ook is daar ’n

duidelike toename in aktiwiteit die

egterkantse temporale lob van hulle brein. Dit word gevolg deur ’n

vloed van gammabreingolwe, wat inskop 0,3 sekondes voordat die

persoon hierop reageer, aldus nog ’n studie van Jung-Beeman en

ander in 2006.

AHA-belewenisse is nodig om informasie tot lewensveranderende

insig te verskuif. Ons kop gee ons egter nie die wêreld se tyd om te

reageer op AHA-ervarings nie. Daniel Alkon (in Howard, 2006:537)

sê: “Once a memory link is formed, there is a short period of

perhaps hours or days during which the responsible cellular

changes can reverse.” Sinaptogenese (“synaptogenesis”) is

meermale egter ‘n blitsvinnige proses waar nuwe sinaptiese

verbindings en die groei van nuwe dendriete in selfs minder as

twee ure kan plaasvind, aldus Belzung en Wigmore (2013:v). “Use

it or lose it,” dus! Wanneer ons in ’n preek, ’n Bybelstudie, ’n

gesprek of ’n interaksie met iemand ’n Goddelike AHA-ervaring het,

moet ons vinnig hierop reageer En dit in ons lewe implementeer.

Ons elkeen het ’n kop in werkende toestand by die Here

ontvang. Hy wil graag hê dat ons dit vul met gedagtes,

emosies, gewoontes en gedrag wat Hom verheerlik en ander

mense opbou.

BRONNE EN

VERWYSINGS

Alia-Klein, N., Goldstein, R. Z., Tomasi, D., et. al 2007. What is in a word? No versus

yes differentially engage the lateral orbitofrontal cortex. Emotion. 7/3, pp. 649-59.

Alper, M. 2001. The “God” part of the brain. A scientific interpretation of human

spirituality and God. Rogue Press.

Arden, J. B. 2010. Rewire your brain. Think your way to a better life. John Wiley &

Sons.

Belzung, C., Wigmore, P. (eds). 2013. Neurogenesis and neural plasticity. Springer.

Bridge, D. J., Paller, K. A. 2012. Neural correlates of reactivation and retrieval-induced

distortion. The Journal of Neuroscience, 32/35: 12144-12151.

Cozolino, L. 2006. The neuroscience of human relationships. Attachment and the

developing social brain. W. W. Norton & Co.

Damasio, A. J. 1994. Descartes’ error: Emotion, reason, and the human brain.

Putnam.

Hamilton, J. 2010. Multitasking brain divides and conquers, to a point. Blog: April 15,

2010.

Howard, P. J. 2006. The owner’s manual to the brain. Everyday applications from

mind-brain research. Bard Press.

Joubert, S. J. 2014. Jy kan ’n verskil maak. Christelike Uitgewersmaatskappy.

Jung-Beeman, M, Bowden, E.M., Haberman, J., et al. 2004. Neural activity when

people solve verbal problems with insight. PLoS Biology, 2, pp. 500–510

Jung-Beeman, M.; Kounios, J., Frymiare, J.L., et al. 2006. The prepared mind: Neural

activity prior to problem presentation predicts subsequent solution by sudden insight.

Psychological Science, 17, pp. 882–890.

Kandel, E. R. 2006. In search of memory: The emergence of a new science of mind.

W. W. Norton & Co.

Kandel, E. R. 2009. The biology of memory: A forty year perspective. The Journal of

Neuroscience, 29/41, 12748-12756.

LeDoux, J. 2003. Synaptic Self. How our Brains Become Who We Are. Penguin

Books.

Medina, J. 2008. Brain rules. 12 principles for surviving and thriving at work, home,

and school. Pear Press.

Newberg, A. M., D’Aquili, E., Rause, V. 2002. Why God won’t go away. Ballantine

Books.

Newberg, A. M., Waldman, M. R. 2009. How God changes your brain. Ballatine

Books.

Newberg, A. M., Waldman, M. R. 2012. Words can change your brain. Twelve

conversational strategies to build trust, resolve conflict and increase intimacy. Plume,

the Penguin Group

Potter, M. C.; Wyble, B. Hagmann, C. E., McCourt. E. S. 2013. Detecting meaning in

RSVP at 13 ms per picture. Attention, Perception, & Psychophysics 76/2, pp. 270-279.

Ripollés, P. Marco-Pallarés, M. et al. 2014. The role of reward in word learning and its

implications for language acquisition. Current Biology 24/21, pp. 2606-2611.

Ekerk Navorsing wil leiers en organisasies help om versigtig te

luister, vinnig te leer en voluit te leef.

Navorsing | Elke verslag bestaan uit verskeie komponente, wat alles

hieronder afgelaai kan word. Die inhoud is beskikbaar om vryelik

gebruik te word in bedienings en opleiding. Die materiaal word onder

'n Creative Commons lisensie gepubliseer, wat beteken dat dit nie

verander of vir kommersiële gewin aangewend mag word nie.

Tendense | Iets wat die wêreld aan die gons het, en wat ons kan help

om 'n groter impak op die koninkryk van God te kan maak. Jy kan

hierdie verslae gratis aflaai, en dit gebruik net waar en hoe jy wil.

Maak ook seker om aan ons nuutste opname deel te neem, of om

ekerk sprekers te nooi om van ons navorsing te kom aanbied in

seminaar vorm.

Kopiereg 2015 Ekerk Vereniging.

Alle regte voorbehou.

Hooray! Your file is uploaded and ready to be published.

Saved successfully!

Ooh no, something went wrong!